Eenjarige gered voor man haar van brug gooi

Die dogtertjie by ‘n nooddienswerker. (Foto: Red Alert Electronic Security/Facebook)

’n Dertigjarige man is Maandagmiddag in hegtenis geneem nadat hy na bewering ’n eenjarige dogtertjie van die Steve Biko-brug in Oos-Londen wou afgooi.

Die peuter is aan haar voete van die brug af gehou voor inwoners en lede van ʼn plaaslike veiligheidsmaatskappy haar te hulp gesnel het. Die man het gedreig om van die brug af te spring.

Red Alert Electronic Security sê sy lede is omstreeks 13:20 deur gemeenskapslede na die brug ontbied waar hulle gesien het hoe die man die dogtertjie onderstebo aan haar voete vashou.

Die man, glo die peuter se oom, wou haar na bewering van die brug afgooi.

“Daar was baie gemeenskapslede op die toneel en hulle het gehelp om die verdagte se aandag af te trek waarna een van ons beamptes, asook ʼn familielid en inwoners die dogtertjie gegryp en die verdagte weggehardloop het.”

Paramedici het die kind daarna op die toneel vir ligte beserings behandel.

Die man het daarna gedreig om van ʼn krans naby die brug af te spring, maar is in hegtenis geneem.

Kol. Sibongile Soci, woordvoerder van die polisie, het gesê die man word aangekla van poging tot moord en ontvoering.

Hy sal na verwagting Woensdag in die Oos-Londense landdroshof verskyn.

Die owerhede en gemeenskapslede by die Steve Biko-brug in Oos-Londen. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Faraway ·

Hy is siek!
Hy moes nadat sy gered is, maar gespring het . . .

Wondermaarnet ·

Ja ne en dan sê die Bybel jy moet jou naaste liefhê, maar in SA sukkel ek so ‘n bietjie daarmee. Gooi die swerkater van die brug af.

Skyspy007 ·

Net so…..soos die Bybel sê, jy moet jou NAASTE liefhê, dan hoef ek mos nie die VêRSTE lief te hê nie!? Wonder wie is my vêrste….??

Byekonfyt ·

So dankbaar dat die dogtertjie uit die kloue van die dood gered is.

Danie ·

Die Bybel is geskryf voordat die huidige gemors SA oorgevat het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.