Eenjarige verdrink amper in dammetjie

Ruvan Jansen van Vuuren (Foto: Verskaf)

“Dit is die Here se genade dat ons hom vinnig genoeg kon red.”

Só vertel Frans-Chenay Jansen van Vuuren nadat haar man, Hendrik, Vrydagmiddag hul eenjarige seuntjie net-net betyds uit ʼn dammetjie gered het. Ruvan sterk tans in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg aan en kan moontlik al die naweek ontslaan word.

Frans-Chenay vertel die vrou wat elke middag vir Ruvan en hul ander twee kinders, Nathan (9) en Lucinda (7), by die skool gaan haal, het die middag die twee ouer kinders gaan oplaai en na haar huis toe gevat. Die vrou bly op ʼn kampeeroord digby De Wildt in Noordwes.

Frans-Chenay en Hendrik het die middag omstreeks 17:00 met Ruvan na die oord gery om hul ander twee kinders te gaan oplaai.

“Ons het daar aangekom en met die eienaar van die oord, die vrou en nog ʼn man begin gesels. Nathan het daar aangekom met sy fiets en hy en Ruvan het begin speel. Hy het intussen weer gery. Toe hy terugkom, was Ruvan nie by hom nie,” vertel Frans-Chenay.

Hulle het dadelik na Ruvan begin soek en hom in ʼn dammetjie langs ʼn swembad op die terrein aangetref.

“Ons het hom in die dammetjie gesien. Dit het gelyk asof hy op sy sy dryf. My man het gehardloop en hom gaan uithaal.”

Hendrik, die eienaar van die oord en nog ʼn persoon het met mond-tot-mond-asemhaling op klein Ruvan begin. Hulle het hom vinnig bygekry en weer ʼn pols en sy asemhaling begin voel.

Paramedici is dadelik na die oord ontbied. Met hul aankoms het hulle Ruvan begin suurstof gee.

“Die paramedikus kon nie ʼn aar vind om vir hom ʼn drup aan te sit nie, en hy moes toe ʼn gaatjie in sy been boor om die drup in te sit.”

Ruvan is per ambulans na die Mediclinic in Brits geneem. “Nadat daar nie ʼn oop bed vir hom gevind is nie en omdat ons nie ʼn mediese fonds het nie, is hy na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg gevlieg,” vertel Frans-Chenay.

Ruvan lê sedert Vrydagaand in dié hospitaal se intensiewesorgeenheid.

“Die dokters het breinskanderings gedoen en niks fout gevind nie.”

Frans-Chenay vertel Ruvan het in die Mediclinic stuiptrekkings gekry, maar het nog nie weer só ʼn voorval na sy oorplasing gehad nie.

Hy is tans stabiel en is Maandag van die ventilator afgehaal. Die dokters monitor sy asemhaling noukeurig.

“Hy gaan dalk Dinsdag uit die intensiewe sorgeenheid geskuif word en hy gaan moontlik, as als goed gaan, die naweek huis toe kom.”

Frans-Chenay vertel hulle kon Ruvan nog nie in die hospitaal besoek nie weens die Covid-19-regulasies.

“Ons is so dankbaar dat ons seuntjie so goed aansterk. Dit is als net die Here se genade en die mense wat bankvas agter ons staan en onophoudelik bid.”

Frans-Chenay sê hulle is ook uiters dankbaar vir die eienaar van die oord en die ander man wat onverpoosd gehelp het om Ruvan by te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Daleen ·

So dankbaar hy is veilig en geen skade nie. Ek oordeel glad nie wil net se in ons familie as ons buite huis is of vakansie hou moet een ouer/oom/tannie/oupa of ouma altyd by die kinders wees terwyl die ander kuier of op rekenaar/foon is of skottelgoed was…. So wissel ons mekaar af deur die dag. ‘n Ongeluk gebeur so maklik.

Anel ·

So bly dit gaan beter met hom. Net siek dat sy ma nie by hom mag wees nie. Dis ‘n baba. Wat verstaan niemand nie! Te hel met die virus. Hulle kan bly wees dis nie my kind nie. Ek sou seker in die tronk beland het. Regtig, kan hulle nou nie maar oor die vervloekte virus kom nie!

Daleen ·

Anel glo my geen besoekers in hospitale is om daai seuntjie te beskerm nie hom of sy ouers te straf nie. Maskers dra is ook vir daardie doel. Asseblief dis sulke selfsugtige mense soos jy wat hospitaal personeel wat onder erge druk in die tyd is onder meer druk plaas. Hulle plaas elke dag hulle lewens in gevaar net om werk toe te gaan. Miskien moet jy bietjie hospitaal toe gaan dat jy kan sien hoe lyk die covid pasiente wat aan ventilators gekoppel is miskien sing jy dan ‘n ander deuntjie. Se liewer dankie vir die Here vir die personeel wat daar is en omgee vir die pasiente terwyl hulle geliefdes nie toegelaat word nie en dat jy duidelik nog niemand naby aan jou aan die dood afgestaan het agv die “vervloekte virus” nie!

Nella ·

Ek sal ook nie alles glo wat die verpleegpersoneel sê nie. Al gehoor van mense waar hul sê dit gaan goed en in die tussentyd is hul al oorlede. En dit nie net 1 of 2 keer onlangs gebeur nie, maar baie meer. Seeing is believing.

Veronika ·

Ja Meneer/Mevrou want mens laat mos ‘n eenjarige uit jou sig of in die sorg van nog ‘n kind……….

LANA is ELANè ·

Goed gebeur so vinnig met klein kindertjies – ek is saam met sy gesin dankbaar dat hy op die herstelpad is. Die Here het werklikwaar ingegryp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.