
(Foto: pixabay)
Nadat ʼn hittegolf groot dele van Gauteng, Noordwes, Limpopo, die Vrystaat en Mpumalanga die afgelope paar dae getref het, waarsku die SA Weerdiens dat dié toestande byna handomkeer gaan verander.
Broodnodige reën word vanaand, asook Woensdag en Donderdag, in dié provinsies verwag. Dit gaan gepaard met ʼn beduidende daling in temperature, het die weerdiens gesê.
Die daling in temperatuur is die gevolg van ʼn oppervlak-hoëdrukstelsel wat vog vanuit die suidwestelike Indiese Oseaan na die oostelike, noordelike en later sentrale dele van die land laat beweeg.
Swaar reën (meer as 50 mm per dag) en moontlike oorstromings word vir die suidelike dele van Gauteng, die noordelike dele van die Vrystaat en die sentrale dele van Noordwes voorspel.
Aanhoudende donderstorms kan Donderdag lei tot verdere oorstromings in die sentrale dele van Noordwes en die noordwestelike gedeeltes van die Vrystaat.
Die weerdiens waarsku teen oorstromings en die sluit van paaie en laagwaterbrûe.
Hael word ook plek-plek voorspel en die weerdiens waarsku teen moontlike infrastruktuurskade weens hewige storms.
In Pretoria is die verwagte maksimum temperatuur môre 20 °C, in Johannesburg gaan die kwik na verwagting net tot 19 °C styg, in Polokwane tot 21 °C, terwyl die maksimum verwagte temperatuur vir Bloemfontein 24 °C is.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
16 Kommentare
Na laasweek se uitmergelende hitte, is die reen soos manna van die hemel af. Ons dank die liewe Vader vir die uitkoms, want mens, dier en die natuur het heeltemal verswelg in daai hitte. Glo nie iemand sal kla oor die welkome reen nie, maar selblief net nie hael nie. Een so massiewe haelstorm was genoeg vir my vir ‘n leeftyd, maar die reen kan maar aanhou gooi vir eers. Hoop die damme word vol, en die arme boere kry ook genoeg reen, sommer vir die hele SA.
Hittegolf en nou koue. Pas op vir tornado’s.
Sooo baie dankie, vir U GOEDHEID IN OORVLOED Hemelse Vader! Open die Sluise van die Hemel en Deurdrenk, ons droee land! Stort ook U GEESreen uit oor Sa, om terug te keer na U! Dankie dat U, ons behoeftes en nood Ken en ook U Hand van Beskerming, oor ons Hou
Toe ek nog in Texas gewerk het is die eerste wat die boer gesê het om pad te gee as ek ook maar ‘n glimps van ‘n tornado of ‘n ratelslang sien…….hy verwoes eenvoudig alles in sy pad!
Ek kan nie meer verder met my diere. Twee weke gelede se reen het groot uitkoms gebring maar gras vat langer om te groei, die hitte het die jong gras laat verlep. Ek kan nie bees verkoop want Bek en klouseer siekte het die verkoop van diere gestop. Duisende boere mag nie verkoop. Transportryers sit sonder inkomste tuis. Die perfekte storm!