Eers pandemie, nou riool wat gastehuis knou

ʼn Stukkende masjien by Swartruggens se rioolverwerkingsaanleg het egter ʼn reuseverstopping in die hoofrioolverbinding, waaraan die Villa Luca-gastehuis se riooluitlaatgang gekoppel is, veroorsaak. (Foto: Verskaf)

Die eienaars van die Villa Luca-gastehuis op Swartruggens in Noordwes moes gaste die afgelope naweek noodgedwonge vra om hul tasse te pak ná rioolvuil die gange van hul vol bespreekte chalets oorstroom het.

Evert en Hester Smit was uiters opgewonde dat daar vir die eerste keer sedert die Covid-19-pandemie weer “beweging op die dorp” was – wat beteken dat besoekers moontlik vir verblyf by Villa Luca sou kom aanklop.

Die egpaar is albei pensioenarisse en afhanklik van die inkomste wat die gastehuis inbring, asook ʼn geskenkwinkel wat Hester op die dorp bedryf.

ʼn Stukkende masjien by die dorp se rioolverwerkingsaanleg het egter ʼn reuseverstopping in die hoofrioolverbinding, waaraan die gastehuis se riooluitlaatgang gekoppel is, veroorsaak. Nou stoot rioolvuil by toilette op die gastehuis se perseel op terwyl vrot water by rioolpype om die huis uitborrel.

Die probleem kom enkele maande ná die munisipaliteit weer die bestuur van water- en rioolwerke in Koster en Swartruggens teruggeneem het. Hierdie aanlegte is vir ʼn geruime tyd deur die dienstemaatskappy Pionier en besorgde inwoners oorgeneem.

“Dit lyk of die Kgetlengrivier-munisipaliteit die dorp se hele rioolstelsel na ons erf geskuif het. Ons is moedeloos,” het Evert Dinsdag aan Maroela Media gesê.

Die egpaar soebat die munisipaliteit sedert Vrydag om in te gryp, maar hulle was teen Dinsdag steeds kniediep in die gemors.

“Ons vra en smeek elke dag dat iemand ons kom help, maar niks gebeur nie. Beloftes deur die munisipaliteit om ondersoek te kom instel en die probleem te herstel, bly onvervul.

Die probleem kom enkele maande ná die munispaliteit weer die bestuur van water- en rioolwerke in Koster en Swartruggens teruggeneem het. (Foto: Verskaf)

“Ek het vanoggend [Dinsdag] 05:00 weer gevra dat iemand dringend moet uitkom, maar nog niks gehoor nie.”

Evert sê die gastehuis ly enorme finansiële skade aangesien hulle gaste wat besprekings wil maak, moet wegwys.

“Die afgelope naweek was die eerste keer in maande dat ons byna vol bespreek was. Dis boonop nou skoolvakansie en ons was positief dat sake sou verbeter.

“Daar is absoluut geen dienslewering op die dorp nie en die munisipaliteit neem klagtes ligtelik op. Dit is duidelik nie vir hulle belangrik nie.”

Dit is boonop die tweede keer in vier jaar dat die Smith-egpaar met dieselfde probleem sit.

Evert kon intussen die rioolvuil na ʼn riooltenk op die perseel herlei. Dit munisipaliteit moet dit kom leegpomp om te verhoed dat dié tenk ook oorloop.

“Indien hulle dit nie doen nie, sal ek geen ander keuse hê as om dit in die straat te laat leegloop nie.”

Evert sê voorts hoewel hulle nou self dié tydelike oplossing kon bewerkstellig sodat rioolvuil nie meer by die toilette opstoot nie, is die stank steeds onhoudbaar.

“Selfs al kan ons die badkamers skoonmaak, is die reuk so erg dat ons nie gaste sal kan huisves nie.

“Ek en my vrou het ook beplan om vir ʼn rukkie weg te breek, maar sal dít ook nie kan doen indien die probleem voortduur nie.”

Johan Kruger, direkteur van Pionier en hoof van gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, sê plattelandse dorpe – soos Swartruggens – word dikwels geteister deur rou rioolvuil wat in strate, strome en riviere, huise en erwe instroom.

Evert Smith kon intussen die rioolvuil na ʼn riooltenk op die perseel herlei. Dit munisipaliteit moet dit kom leegpomp om te verhoed dat dié ook oorloop. (Foto: Verskaf)

“Daar is byna nie meer een plattelandse rioolaanleg wat ten volle funksioneel is nie. Die oorgrote meerderheid aanlegte is wanfunksioneel en het weens swak bestuur, onderhoud en ʼn gebrek aan kennis en vaardighede verval.

“Hierdie haglike toestand hou groot gesondheidsrisiko’s vir gemeenskappe in en het ook ʼn beduidende uitwerking op lewensgehalte, sakeonderneming en die plaaslike ekonomie.”

Volgens Kruger was die Kgetlengrivier-munisipaliteit in goeie hande toe die aanlegte vanjaar vir ʼn kort ruk deur die maatskappy en inwoners bestuur is.

“Ook die Swartruggens-rioolaanleg was weer in hierdie tydperk funksioneel nadat die gemeenskap ingegryp het. Ongelukkig het die hof beslis dat die aanlegte aan die munisipaliteit teruggegee moes word en nou sit die gemeenskap weer met die gebakte pere.”

Kruger het ook na die onlangse onttrekking van Clover uit Lichtenburg verwys, en sê dat dít as ʼn bewys dien dat ondernemings eenvoudig nie meer met munisipale verval kan uithou nie.

“Eiendomspryse en die plaaslike ekonomie gaan gebuk onder munisipale verval, soos in die geval van Swartruggens se gastehuis wat kansellerings ontvang het weens rou riool wat in die gastehuis instroom.

“Dit is ʼn ongelukkige voorbeeld van wat baie ander ondernemings in die platteland ervaar. Uiteindelik is gemeenskappe wat dienste self teen betaling deur die staat bestuur die enigste manier om toe te sien dat dienste in hierdie soort gemeenskappe gelewer word en dat inwoners waarde vir belastinggeld kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
cccp

Die spul kan nie ‘n draadkar bestuur nie en alles wat hulle aanraak verander in ‘riool’. Maar in beheer MOET hulle wees. Wat sê Spreuke 30:21-22 nou weer?

Hendrik

Hulle gee nie h vloer om nie want dit is hul standaard enige hoer standaard word vervloek, want dit is volgens hul opvatting onregmatig bekom. Die ongelykheid moet volgens hul opvatting reggestel word. En wat is arbeidstrots.

Eugene

Dis nou Cyril se bekwame munisipaliteite. Lagwekkend en wys weereens vir die wereld wie is die clown

Werner

En so sal dit aangaan tot daar besef word hulle kan maar net nie regeer nie

anniekiewiet

Die woordjie en begrippe trots, integriteit, higiëne ens is nie deel van hulle persoonlikheid nie. Op alle gebiede soos ook paaie, parke , monumente, skole, hospitale ens wys hulle hul leë omgee-karakter.