Eers treine, nou laat MyCiti pendelaars in die steek

Net enkele MyCiti-busse het Maandag in die Kaap geloop weens ’n onwettige staking deur busbestuurders. Foto: Facebook

Die Stad Kaapstad het Maandag pendelaars om verskoning gevra wat weens ʼn onwettige staking deur MyCiti-busbestuurders gestrand is.

Die stadsraad sê die munisipale busdiens word ontwrig as gevolg van die onwettige staking deur bestuurders in diens van die maatskappye wat die roetes namens die Stad Kaapstad bedryf.

Op die oomblik is net enkele roetes in werking; daarom raai die stadsraad pendelaars aan om tot verdere kennisgewing ander reëlings te tref.

Die onwettige staking het Maandag om 05:00 begin en die diens ernstig ontwrig toe net ʼn paar roetes se busse geloop het.

Die stadsraad sê nóg hulle nóg die maatskappye wat die diens bedryf is van die staking of die redes daarvoor in kennis gestel.

Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer, sê dis onduidelik hoe lank die staking sal duur en wanneer MyCiti se diens weer normaal sal loop. “Die stadsraad hou die situasie dop en sal pendelaars op hoogte hou.”

Hertzog-boulevard op die Strandgebied is vanoggend gesluit nadat die stakende bestuurders saamgetrek het in die rooi busbaan by die busstasie buite die Burgersentrum en die bestuurders wat wel wou werk, geïntimideer het.

“Ek is besorg oor die onwettige staking en die uitwerking wat dit op pendelaars het wat reeds swaarkry weens die gebrekkige treindiens,” sê Herron. “Ek is bewus gemaak van gevalle van stakers wat hul kollegas geïntimideer het omdat hulle nie saam staak nie.”

Hy sê dis onaanvaarbaar. “Ek dring aan by die bedryfsmaatskappye en hul werknemers om mekaar so gou moontlik te ontmoet … sodat die diens onverwyld hervat kan word.”

Herron sê dit is onverklaarbaar dat die bestuurders nou skielik onwettig staak, so kort nadat ʼn ooreenkoms oor werkomstandighede in Mei ná ʼn vier weke lange staking bereik is.

Pendelaars kan die Stad Kaapstad se vervoerinligtingsentrum enige tyd by 0800 65 64 63 bel vir die jongste inligting oor die diens, @MyCiTibus op Twitter volg of die Facebook-blad “MyCiTi Integrated Rapid Transit System” besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

leser ·

treine word aan die brand gesteek, bus bestuurders staak, alles ten gunste van die taxi bedryf
laat die taxis dan nou die pendelaars maar aanry, metro wees net harder op taxis, trek dit af, ondersoek elke moontlike plekke waar daar fout kan wees, hou taxi tot 45minute stilstaande voor hy kan ry
jy gaan hom in ‘n spoedlokval kry, dan betaal hy vir die deursoek van die taxi en dan ook vir die spoedlokval, en môre oormôre kan jy hom van die pad afhaal vir onbetaalde oortredings, ens.

Alida ·

Onthou Kaapstad word deur DA beheer. Hulle teiken die DA gebiede. Gemors.

AW ·

It is the Phantom Third Force…. behind this Anarchy….

Or is it another:

“While we were interrogating, investigating and reporting these stories, there was clearly a parallel political project aimed at undermining our democratic values and destroying state institutions, and removing individuals who were seen as obstacles to this project,” the Sunday Times editor said.

AmY ·

Hoekom doen hulle nie wat sommige oorsese busbestuurders doen nie; moenie staak nie, laat die pendelaars net gratis ry, dan sal die busmaatskappy dit mos gou voel…

John ·

Daar sal wel eise kom met politieke konnotasies. Die DA weet wie agter die probleme sit, maar dit sal die party gruwelik benadeel, gevolglik word dit met handskoene hanteer. Daar word gehoop dat die status quo herstel word en die DA sink. Hier is lelike onderstrominge aan die gang. Ons word ‘n hooligan hool.

jaco ·

Die Stad Kaapstad word wel deur deur die DA beheer, maar daardie DA komponent gaan nie veel verder as die verkose DA raadslede nie. Kom dit by die amptenare wat vir die Stad Kaapstad werk, is dit meestal regstellende aksie aangestelde mense wat amper almal geaffilieer is by COSATU- en ANC-gesinde vakbonde.
Skaf hierdie verkose rade almal af en maak alles net een groot ANC-eenpartystaat. Dan is ALLES mos ANC. Dan sal alles beter werk.

Eish! ·

Jaco – Hoe lekker lag ek nou. Goeie humor so vroeg in die dag. Ek hou veral van jou laaste sinnetjie. Het op die vloer gelê en lag.

Gerhard ·

Wat dit eintlik beteken is dat dit nie saak maak of die DA of die ANC daar regeer nie. Die selfde probleme.

marous ·

Loop maar met die voet … al in die rondte , want werk toe gaan of winkel toe gaan of hospitaal toe gaan of skool toe gaan of huis toe gaan sal baie binnekort nie meer gebeur nie , want daar gaan niks wees nie .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.