Eerste Afrika-heilige van Limpopo

Argieffoto

Argieffoto

Benediktyn Daswa, ʼn skoolhoof van Limpopo wat vir sy Katolieke standpunte gestenig, aangerand en gebrand is, gaan die eerste persoon in Afrika wees wat tot heilige verklaar word.

“Daswa het ʼn beginselvaste standpunt teen heksery gemaak,” het biskop Hugh Slattery, wat die veldtog gelei het om Daswa se saligverklaring te bewerkstellig, aan die Sunday Times gesê. “Hy het dit openlik gedoen selfs al was daar pogings op sy lewe gemaak voordat hy tot die dood gemartel is.”

Die koerant het Sondag berig dat pous Franciskus die proklamasie van saligverklaring op 22 Januarie vanjaar gemagtig het.

Daswa se verhaal is vervat in ʼn verslag van nagenoeg 1 000 bladsye wat aan die Vatikaan gestuur is. Hy is in 1946 in Mbahe gebore as lid van die Lemba-stam, wat hulself as Joodse afstammelinge beskou. Hy het in die ouderdom van 17 omgeskakel na die Katolieke geloof.

Hy was die skoolhoof van Nweli Primary School toe die gebied in November 1989 swaar reën en donderstorms ervaar het, wat verskeie hutte in die gebied verwoes het. Lede van die gemeenskap het vermoed die storm was deur heksery veroorsaak, en het in Januarie 1990 begin om geld in te samel om die heks agter die storm deur ʼn tradisionele geneser te identifiseer.

Daswa het egter geweier om ʼn bydrae te maak en het probeer om die gemeenskap te oortuig dat die gebeurtenis ʼn natuurlike verskynsel was.

Op 2 Februarie 1990, is Daswa in ʼn lokval gelei en vermoor deur ʼn skare wat hom gestenig, met knopkieries aangerand en kookwater oor hom gegooi het. Hy was 43 jaar oud.

Slattery het gesê daar bestaan selfs ʼn moontlikheid dat die pous self die seremonie gaan bywoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.