Eerste besending entstof vir Afrika bekom

(Foto: Graeme Robertson / various sources / AFP)

Die eerste besending van 270 miljoen entstofdosisse is vir Afrika bekom, het pres. Cyril Ramaphosa, voorsitter van die Afrika-unie (AU), Woensdag tydens ʼn spesiale vergadering aangekondig.

Minstens 50 miljoen van hierdie dosisse sal volgens hom reeds tussen April en Junie beskikbaar wees.

Die entstowwe sal deur Pfizer, AstraZeneca en Johnson & Johnson aan die vasteland verskaf word.

Hierdie pogings is bykomend tot die Covax-entstofprogram, ʼn inisiatief van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en Gavi Vaccine Alliance, om lande met lae en middelinkomste te help om toegang tot entstowwe op ʼn billike en regverdige grondslag te verkry.

Die Afrika-entstofverkrygingstaakspan (AVATT), ʼn span van tien lede van oor die vasteland, is in Augustus verlede jaar op die been gebring om te verseker dat Afrika voldoende entstofdosisse sal kry om kudde-immuniteit te verseker.

Ramaphosa het dit tydens die vergadering duidelik gemaak dat die AU van die aanvang van die pandemie op samewerking tussen Afrikalande gefokus het en dat geen land agtergelaat mag word wat betref die verskaffing van die entstowwe nie.

“Reëlings is met Afreximbank getref om lidlande wat toegang tot hierdie entstowwe wil hê, te ondersteun op grond van ʼn Afrika-geheelbenadering. Afreximbank sal – met ontvangs van bestellings van lidlande – vooraf waarborge tot verbintenis van die verkryging van tot $2 miljard (sowat R30 miljard) aan die vervaardigers namens lidlande lewer.”

Lidlande kan betaal wanneer hulle die entstof ontvang, of dit oor ʼn tydperk van tot vyf jaar afbetaal.

“Daar is ook noue samewerking tussen die AU-span en die Wêreldbank om te verseker dat lidlande toegang tot ongeveer $5 miljard (sowat R76 miljard) het om meer entstowwe te koop of om daarvoor te betaal wanneer die gelewer word.

“Hierdie pogings is daarop gemik om die Covax-plan aan te vul en om te verseker dat soveel moontlik dosisse entstof so spoedig moontlik in die hele Afrika beskikbaar is.”

Ramaphosa het gesê hy hoop skenkers sal ingryp en verseker dat meer entstowwe via Covax voorsien word, aangesien enige nuwe skuldlas vir lidlande op lang termyn moeilik is.

“Hoewel die Covax-inisiatief noodsaaklik is vir die reaksie van Afrika op die virus, is die AU bekommerd dat die Covax-volumes wat tussen Februarie en Junie vrygestel sal word, moontlik nie verder sal strek as die behoeftes van gesondheidswerkers nie.

“ʼn Ander uitdaging is dat die doelwit van 600 miljoen dosisse van Covax slegs ongeveer 300 miljoen mense in Afrika sal dek, wat net sowat 20% van die bevolking is. Wetenskaplikes van die Afrika-sentrums vir siektebeheer en voorkoming het aanbeveel dat ons minstens 60% van die bevolking moet bereik om die verspreiding van die siekte aansienlik te vertraag.”

Ramaphosa het die versekering gegee dat die AVATT-span verder saam met ander verskaffers werk om toegang tot meer entstof te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Willem ·

Daar is dan gesê einde van die maand. Nou ja nou weet ons hoe lieg hulle

Anel ·

Nou verstaan ek nie lekker nie. Hulle sê hulle het 270 milj dosese bekom maar net 50 milj is beskikbaar. Waar is die ander220 milj heen. Nie dat dit my pla nie. EK SAL MY NIE LAAT SPUIT NIE.!!!!

Anoniem ·

Ja nee Anel, dit is nou ook iets wat ek nie verstaan nie. Daar was dan sprake dat die eerste besending entstowwe die einde van Januarie in Suid-Afrika sou wees. Ek is ook een van die mense wat my nie gaan laat intent nie.

JohanR ·

Kan jy entstof verkoop op dis swart mark soos sigarette, dan is NDZ en al haar seuntjies defnitief betrokke?

Persheks Adri ·

Eers gaan dit die einde van die jaar wees, toe die einde van Januarie nou weer ander stories! Druk julle entstof ons soek dit nie tsssk

Miskruier ·

Laat ons eerder druk op die Medisyne Raad plaas vir die goedkeur en produksie van Ivermectien.

JohanR ·

Ek lees iewers dat van die eerstes wat gaan die entstof kry is gevangenes. Meen dit dat die ANC/EFF, Jacob Zuma en Schabir Shaik, gaan vrywillig vir ‘n dag, ‘n aand en ‘n dag tronk toe?

Dirk Mostert ·

Ek stel voor die volgende rangorde vir inentings: 1. Die mediese professie (hulle vertrou mos die entstof.) 2. Politici. Van die president af ondertoe. 3. Gevangenis. Dis dan nie nodig om tronke leeg te maak uit vrees vir covid nie. Diegene wat meer as een straf tegelyk uitdien kan twee inentings kry.

Jakes ·

Het ons die afgelope 26 jaar al geleer hoe die ANC vir die volk lieg nie?

SomeOne ·

en nou gaan cr sekerlik die lidlande help betaal vir die entstof, waar gaan die geld vandaan kom

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.