Eerste besending voedsel versprei

Voedsel en noodsaaklike items geskenk aan ‘n pleeghuis in Pretoria (Foto: Verskaf)

Die taakspan bestaande uit die burgerregteorganisasie AfriForum en Saai, die landbounetwerk vir familieboere, in samewerking met Solidariteit Helpende Hand het Donderdag hul eerste besending voedsel afgelewer. Meer as 5 ton vars produkte is by meer as 20 tehuise in die Pretoria-omgewing afgelewer.

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, het die anonieme boer van Limpopo bedank wat dié vars produkte geskenk het. Hy het ook ander boere wat tans ’n surplus voedsel het wat vermors gaan word, aanmoedig om dit te skenk aan dié inisiatief of die produkte deur plaaslike strukture te laat versprei.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, het gesê dié skenkings help die bejaardes in die gemeenskappe om deur hierdie moeilike tyd te kom deur hulle genoeg vars kos te bied om te eet.

Maroela Media het vroeër berig AfriForum en Saai het ʼn taakspan op die been gebring om in samewerking met die Josef-silo’s-projek voedsel en noodsaaklike items soos handreiniger en gesigsmaskers in te samel en te versprei. Hierdie voedsel en items sal aan behoeftige individue, gesinne en instansies soos kinderhuise, tehuise vir bejaardes en klinieke in gemeenskappe reg oor die land versprei word.

Helpende Hand se Josef-silo’s-projek het meer as 70 silo’s reg oor die land gevestig, waar behoeftige mense voedsel kan ontvang en waar ander mense voedsel kan aflaai.

Ian Cameron (links) en Francois Rossouw (regs) (Foto: Verskaf)

AfriForum en Saai sal die verspreiding van dié items op grondvlak by die silo’s behartig. Saai se familieboere sal skenkings by die naaste silo’s aflaai en AfriForum sal verantwoordelik wees vir die mikro-verspreiding van die voedsel en ander items aan behoeftiges.

Dié taakspan is gestig omdat soveel behoeftiges nie by die spesifieke silo’s kan uitkom nie om skenkings te kom optel nie. Van die boere woon ook ver van die silo’s en kan nie skenkings aflaai nie.

“Hierdie projek skep hoop en AfriForum wil dit graag uitbou om meer te kan doen. Ons moenie verwag dat die staat alleen ons gaan bystaan in hierdie tyd nie,” sê Cameron.

Helpende Hand doen ’n beroep op mense om, indien hulle in die afsonderingstydperk goedere gaan aankoop, iets ekstra te koop en by die Josef-silo’s in hul gebied te gaan aflaai. As die afsondering verby is, sal die silo’s vir ’n geruime tyd bedrywighede voortsit totdat die krisistyd verby is. Alle voorsorgmaatreëls sal getref word om die publiek se veiligheid te verseker.

Mense kan ook skenkings maak aan die Solidariteit Beweging se noodfonds om hierdie projek te ondersteun.

Skenkings kan by www.helpendehand.co.zawww.afriforum.co.za of by www.krisisfonds.co.za gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Burgermeester ·

Baie dankie AfriForum , Saai, en Solidariteit Helpende Hand vir julle toewyding en ondersteuning!

Alida ·

Baie dankie julle dit word opreg waardeer. Die kinder en ouetehuise kry swaar en die regering sal nie vir hulle sorg nie. BAIE DANKIE die Here seen julle.

Eerlik ·

Wonderlike nuus, dankie!! Dit sou nie skade doen as die projek dalk staande bly na die “lockdown” nie, daar sal altyd van ons mense in nood wees wat nie bystand van die staat kry nie.

Sarel ·

L.W. President Rhamaposa , ek weet ubis besig maar waar is die Staatshulp aan die hulpbehoewendes. Die Staat het mos en ontvang steeds skenkings .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.