Eerste Covid-19-geval in Gauteng-gevangenis

Argieffoto

Die departement van korrektiewe dienste het Dinsdag sy eerste Covid-19-geval in Gauteng aangemeld. Dit volg na ʼn korrektiewe beampte in ʼn gevangenis in die Johannesburgse bestuursgebied positief vir die virus getoets het.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het gesê nog drie korrektiewe beamptes het positief vir Covid-19 getoets. Dit bring die getal bevestigde Covid-19-gevalle in korrektiewe sentrums in die land op 114 te staan.

In die Wes-Kaap het nog twee korrektiewe beamptes positief getoets. Die departement het nou 22 beamptes met Covid-19 in dié provinsie aangemeld.

Altesaam 31 beamptes en 56 gevangenes in die Oos-Kaap het tot op hede positief getoets vir Covid-19. ʼn Verdere twee korrektiewe beamptes in Limpopo en een by die departement se hoofkantoor het ook positief getoets.

Nxumalo sê twee beamptes wat vroeër positief vir Covid-19 getoets het, het intussen herstel. Een van hulle is werksaam by die Oos-Londense gevangenis in die Oos-Kaap en die ander een by die Kutama-Sinthumule-gevangenis in Limpopo.

“Die departement het met die implementering van die Covid-19-rampbestuurstrategie sy pogings verskerp om meer beamptes en gevangenes vir die virus te toets,” het Nxumalo gesê.

Altesaam 3 465 Covid-19-gevalle is tot dusver in die land aangemeld en 126 937 toetse is tot dusver gedoen. Minstens 58 persone het reeds gesterf. Die aantal persone wat reeds van die virus herstel het, het tot 1 055 gestyg.

Gauteng en die Wes-Kaap is steeds die provinsies in die land met die meeste bevestigde gevalle van Covid-19. Altesaam 1 199 bevestigde gevalle is tans in Gauteng en 1 010 in die Wes-Kaap aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tinus ·

Ek weet dat hierdie voorstel teen ons regering se beleid is, maar, as hulle die hoeveelheid sterftes en positief getoetstes in % weergee volgens bevolkingsgroep, haan die mense wakker skrik. Daar is hope swartes wat die Covid19 verwelkom want dit gaan al die witmense doodmaak. Hulle verkeer onder die indruk day dit slegs blankes affekteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.