Eerste Covid-19-geval presies jaar gelede in SA bevestig

Die eerste Covid-19-geval is vandag presies ‘n jaar gelede in Suid-Afrika bevestig. (Argieffoto: Michele Spatari/AFP)

Die eerste Covid-19-geval is presies ʼn jaar gelede in Suid-Afrika bevestig en min mense sou hulle waarskynlik die wêreld kon voorstel soos dit vandag daarna uitsien. In hierdie stadium is daar net meer as 31 000 aktiewe gevalle in die land en daar is waarskuwings oor ʼn moontlike derde golf van infeksies.

In Gauteng het die LUR vir gesondheid, dr. Nomathemba Mokgethi, gesondheidswerkers Vrydag geloof vir hul dapperheid in die stryd teen die pandemie.

“Die helde in die voortgesette stryd teen die gesiglose vyand, genaamd die koronavirus, is ongetwyfeld diegene in die voorste linie,” het Mokgethi gesê.

Sy sê een van die voordele wat uit die pandemie gespruit het, is die verbetering van die provinsie se openbare gesondheidsinfrastruktuur.

“Dit het gelei tot ʼn verhoging in kapasiteit. Ons het 4 265 nuwe beddens bygevoeg en tussen April verlede jaar en Januarie vanjaar is 4 992 nuwe poste geskep.”

Sy sê nog 1 425 beddens word binnekort in gebruik geneem en bykomende personeel sal in die nuwe boekjaar aangestel word.

“Ons het ongelooflike veerkragtigheid en innovering by sekere hospitale gesien waar die bestuur en personeel die toename in gevalle uiters goed gehanteer en met ongelooflike oplossings vorendag gekom het.”

By die Charlotte Maxeke- akademiese hospitaal in Johannesburg het gesondheidswerkers onder meer met ʼn toestel vorendag gekom om aanraking met pasiënte tydens byvoorbeeld intubasie en ekstubasie tot die minimum te beperk.

Die LUR het ook die private sektor geloof vir die rol wat hy, asook burgerlike organisasies, in die stryd teen die pandemie gespeel het.

Die regering se Sisonke-inentingsprogram is reeds in Gauteng van stapel gestuur om gesondheidswerkers teen die virus te immuniseer voordat ʼn massa-inentingsprogram onder lede van die publiek afskop. Net in dié provinsie is amper 22 000 werkers reeds teen die virus ingeënt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karel Kobus Kruger ·

Sal my nie verbaas nie. Indien ek my nie misgis nie, is daar n Engelse spreekwoord van small thing en small minds. Of iets in daai lyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.