Eerste Covid-19-gevalle in Bloemfontein aangemeld

Blommeverkoper Faldielah Gamieldien sê die varsblommemark in Kaapstad word swaar getref weens die koronavirus-uitbreking wat die Kaapstadse middestad in ‘n spookdorp verander het (Foto: Ian Landsberg/African News Agency/ANA)

Dr Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Donderdag bevestig die eerste gevalle van die nuwe koronavirus (Covid-19) is in die Vrystaat aangemeld.

Mkhize het in ʼn verklaring gesê die persone word tans in kennis gestel van die uitslag van hul toetse. “Sommige van die persone is reeds in kwarantyn geplaas deur die provinsiale regering. Ons sal die getalle van dié gevalle Vrydag bekend maak, sodra al die pasiënte gekontak is.”

Maroela Media het vroeër bevestig minstens 150 persone het reeds positief getoets vir Covid-19 in Suid-Afrika. Die gevalle in die Vrystaat is nie by dié getal ingesluit nie.

Mkhize het Donderdagmiddag ook dringend met hoof- uitvoerende beamptes van privaat laboratoriums vergader wat die Covid-19-toetse doen. Die privaat laboratoriums het hul toewyding en bereidheid om met die regering saam te werk om die toetse uit te voer, opnuut bevestig. Alle inligting sal dadelik aan die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) gekommunikeer word om deurlopende verslaggewing te verseker. Die inligting sal saamgevoeg word en daarna aan die publiek bekend gemaak word, het Mkhize bygevoeg.

“Ons is dankbaar om die publiek in kennis te stel dat ons reeds persone het wat herstel ná hulle positief getoets het. Ons is besig met verdere toetse en mediese ondersoeke en sal die publiek dan formeel in kennis stel van die getal gevalle van persone wat herstel het. In hierdie stadium sterk meeste pasiënte baie goed aan.”

Mkhize was Donderdagoggend ook in gesprek met Dr. Mbombo, LUR vir gesondheid in die Wes-Kaap. Sy en haar personeel is as ʼn voorsorgmaatreël in self-kwarantyn ná sy in kontak was met die Franse konsultaat-generaal wat aangekondig het dat hy positief getoets het vir Covid-19. “Die LUR voel goed en toon nie enige simptome nie. Sy wag nou om haar uitslag te ontvang wat die pad vorentoe sal bepaal. Ons wens haar alles van die beste toe.”

Hy het gesê uit die inligting van die jongste gevalle wat aangemeld is (sien volledige uiteensetting onderaan hierdie berig) ontbreek die kontakbesonderhede van sommige van die gevalle wat positief getoets het. Die persone se kontakbesonderhede is nie op die laboratoriumvorm ingevul nie. “Dit plaas nog meer druk op die NIOS om die privaat dokter op te spoor om gevolglik die pasiënt se besonderhede te bekom.” Die minister doen dus ʼn beroep op alle dokters om die vorms so volledig as moontlik te voltooi sodat alle besonderhede van die pasiënt dadelik beskikbaar is. “Dit sal verseker dat die bevestigde uitslae ook geanaliseer kan word volgens geografie en om dringend persone te kontak wat met die pasiënt in verbinding was.”

Soos vroeër aangekondig deur pres. Cyril Ramaphosa, het Suid-Afrika teen Donderdag minstens 150 gevalle. Die uiteensetting van die jongste gevalle (Vrystaat uitgesluit) is soos volg:

Gauteng (15 gevalle)
– ʼn 41-jarige vrou wat na die Demokratiese Republiek van die Kongo gereis het
– ʼn 43-jarige vrou wat na die Verenigde Koninkryk gereis het
– ʼn 54-jarige vrou wat na die Verenigde Koninkryk gereis het
– ʼn 58-jarige man wat na die Verenigde Koninkryk gereis het
– ʼn 38-jarige man wat na Frankryk gereis het
– ʼn 70-jarige vrou wat na die VSA gereis het
– ʼn 30-jarige man wat na Spanje gereis het
– ʼn 45-jarige man wat na die Demokratiese Republiek van die Kongo gereis het
– ʼn 85-jarige man wat na Switserland gereis het
– ʼn 64-jarige man wat na Viëtnam en Thailand gereis het
– ʼn 41-jarige man wat na Nederland gereis het
– ʼn 37-jarige vrou wat geen internasionale reise onderneem het nie
– ʼn 23-jarige man (geen kontakbesonderhede op laboratoriumvorm nie; inligting word van die privaat dokter bekom)
– ʼn Vyfjarige meisie (geen kontakbesonderhede op laboratoriumvorm nie; inligting word van die privaat dokter bekom)
– ʼn 44-jarige man (geen kontakbesonderhede op laboratoriumvorm nie; inligting word van die privaat dokter bekom)

KwaZulu-Natal (3 gevalle)
– ʼn 71-jarige vrou wat na die Verenigde Koninkryk gereis het
– ʼn 26-jarige man wat na Mexiko en die VSA gereis het
– ʼn 29-jarige vrou (geen kontakbesonderhede op laboratoriumvorm nie; inligting word van die privaat dokter bekom)

Mpumalanga (1 geval)
– ʼn 56-jarige vrou wat na Frankryk gereis het

Wes-Kaap (15 gevalle)
– ʼn 53-jarige vrou wat na die Verenigde Koninkryk gereis het
– ʼn 30-jarige man wat na Nederland en Katar gereis het
– ʼn 45-jarige man wat na Mexiko gereis het
– ʼn 70-jarige vrou wat na die VSA gereis het
– ʼn 25-jarige vrou wat na die Verenigde Koninkryk gereis het
– ʼn 37-jarige vrou wat na die Verenigde Koninkryk gereis het
– ʼn 43-jarige vrou wat na die VSA gereis het
– ʼn 31-jarige man wat na Spanje en Nederland gereis het
– ʼn 53-jarige vrou wat na Switserland, Oostenryk, Tsjeggië en Duitsland gereis het
– ʼn 22-jarige vrou wat na die Verenigde Koninkryk gereis het
– ʼn 63-jarige man wat na Switserland, Oostenryk, Tsjeggië en Duitsland gereis het
– ʼn 22-jarige vrou wat na Spanje en Nederland gereis het
– ʼn 32-jarige man wat na die VSA gereis het
– ʼn 37-jarige man (geen kontakbesonderhede op laboratoriumvorm nie; inligting word van die privaat dokter bekom)
– ʼn 53-jarige man wat geen internasionale reise onderneem het nie

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

SwartBees ·

n Twee weke lockdown begin al hoe meer voorkom as (ook) n oplossing… just saying.

Kirst ·

Othou net ons woon in Afrika, nie in Sjina of Europa nie. Die meerderheid mense hier het waarskynlik onvoldoende infrastruktuur om kos te berg en vars te hou en sal dus ten minste elke paar dae winkel toe moet gaan. In plakkerskampe deel huishoudings toilette en staankrane ook – hoe “lockdown” jy hulle?

Marthinus Johannes ·

34 gevalle gelys hierbo, waar is die res (150) Hoekom is party persone se besonderhede nie beskikbaar nie terwyl daar vir elke persoon n leer oopgenaak word met sy besonderhede in as hy n dokter gaan sien.

Chantel ·

Eintlik het dit niks met die publiek te doen wie die persoon/ne is nie. Die inligting soos jy sal lees is reeds aangevra vanaf die betrokke dokter. Mense, onder druk en stress, vergeet soms om goed in te vul. Mens noem dit menselike foute.

Anel ·

Dis nogal jammer dat mense nie so histeries word wanneer gewone griep, of malaria of TB of Vigs of enige sulke aansteeklike siektes uit breek nie. In vergelyking, hoeveel mense word jaarliks deur daardie en ander siektes geraak as hierdie nuwe virus? Vra maar net.

antieke antie ·

ek betwyfel sterk die eerlike van die verklarings ….dink dis die tip of the mountain

Faraway ·

Dit sal ook help as mense gewys word hoe masker opgesit moet word …. want een in artikel hierbo is onderstebo!
Die staalplaatjie is veronderstel om op neusbrug te wees …. dan moet jy hom met jou vingers liggies afdruk sodat hy kan vou om die ronding van jou neus.

De Villiers ·

Hoekom sit julle ‘n foto van ‘n blommeverkoper van Kaapstad as die artikel oor Bloemfontein gaan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.