Die Christelik-Volkseie Onderwys (CVO)-skool in Pretoria het sy 30ste bestaansjaar in die vorm van ʼn karnaval gevier waartydens ʼn paar opwindende aksies van stapel gestuur is.
Hierdie privaatskool, wat deel van die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO) is, het op 22 Januarie 1992 met 36 leerlinge begin. Die amptelike opening was op 27 Februarie 1992, om dit op Majubadag te laat val. Twee dae later is die inwyding met ʼn kermis gevier, soos dit ook nou, 30 jaar later gedoen is.
Volgens Marinette de Bruin, wat reeds 28 jaar lank as onderwyseres by CVO Pretoria diens doen, is dit die eerste CVO-skool is wat by die onderwysdepartement geregistreer is.
Die skool is in die ooste van Pretoria, ʼn klipgooi oos van Solomon Mahlanguweg, in Grahamweg geleë.
Die viering is as die ideale geleentheid gesien om ʼn nuwe vlag vir die skool bekend te stel. Ds. Hendrik du Plessis, ʼn oudleerling, het die onthulling waargeneem en die vlag is vir die eerste keer deur die hoofseun, Petrus du Bruyn, en hoofdogter, Suné Janse van Rensburg, gehys.
Op die wit, middelste baan van die vlag is twee embleme, wat die etos van die skool simboliseer, aangebring. Die ankerkruis simboliseer die Christelike, terwyl die wawiel die volkseie etos vergestalt.
Om iets interessants vir die volgende geslag te bied is ʼn tydkapsule vol boodskappe in ʼn gat verseël. Die hoofseun van 2014, dr. Waldo van Niekerk, het die tydkapsule-seremonie waargeneem en daar is besluit dat hierdie boodskappe eers oor tien jaar, in 2032 oopgemaak moet word.

Ds. Carl Vermaak van die Bybelgenootskap, oorhandig ‘n Bybel aan Maruis Kruger, die skoolhoof. (Foto: Marinette de Bruin)
Ds. Carl Vermaak van die Bybelgenootskap, wat ook ʼn ouer van ʼn leerder in die skool is, het ʼn Bybel met die skool se wapen voorop, aan die skoolhoof, Marius Kruger, oorhandig.
ʼn Spesiale “Terugblik oor 30 jaar”-gedig is geskryf en voorgelees deur De Bruin.
In sy boodskap het Kruger gesê dat hy deur sy hele loopbaan nog nooit ʼn skool gesien het met so ʼn ryke kultuur soos CVO Pretoria, terwyl daar in sy kort leeftyd soveel uitdagings oor die skool se pad gekom het nie.
“In 2022 kyk ons met dankbaarheid terug oor 30 genadejare waarin die skool nou reeds meer as 320 matrikulante die grootmenswêreld ingestuur het, wat hulle plek in die samelewing volstaan,” sê Kruger.
Benewens die huidige leerlinge, ouers en grootouers, het verskeie oudleerlinge ook die verrigtinge bygewoon en kon hulle nostalgies terugdink aan die jare wat hulle daar deurgebring het.
Meer as 40 oudleerlinge was teenwoordig, wat ou bande weer opgetel en verstewig het. Awie Erasmus, die hoofseun van 2005, het namens die oudleerlinge ʼn boodskap gebring.
Tientalle stalletjies, ʼn kaskarbaan en ander speletjies en aktiwiteite het groot vermaak verskaf aan feesgangers en ʼn heerlike CVO-kuier moontlik gemaak.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
10 Kommentare
ONS SAL SELF
Doen so voort!!!! Baie geluk, mag daar nog BAIE mooi jare voorle.
Wonderlik!! Dit is ook wonderlik om so iets te lees. Die skool groei waar andere hulle skole afbrand. Maar dit is die Afrikaner kultuur! Ons sal self!. Baie geluk CVO Pretoria. Met God se genade wens ek julle nog baie geseënde en gelukkige jare toe!
CVO-Skole is regoor die land. Besoek gerus indien u erns maak met u doopbelofte “om te leer en te laat leer”.
Goeie berig. Mag julle van krag tot krag gaan. Alle eer aan ons Hemelse Vader