Eerste CVO-skool 30 jaar oud

CVO Pretoria se nuwe vlag. (Foto: Marinette de Bruin)

Die Christelik-Volkseie Onderwys (CVO)-skool in Pretoria het sy 30ste bestaansjaar in die vorm van ʼn karnaval gevier waartydens ʼn paar opwindende aksies van stapel gestuur is.

Hierdie privaatskool, wat deel van die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO) is, het op 22 Januarie 1992 met 36 leerlinge begin. Die amptelike opening was op 27 Februarie 1992, om dit op Majubadag te laat val. Twee dae later is die inwyding met ʼn kermis gevier, soos dit ook nou, 30 jaar later gedoen is.

CVO Pretoria het sy 30ste verjaarsdag met ‘n karnaval gevier. (Foto: Du Preez de Villiers)

Volgens Marinette de Bruin, wat reeds 28 jaar lank as onderwyseres by CVO Pretoria diens doen, is dit die eerste CVO-skool is wat by die onderwysdepartement geregistreer is.

Die skool is in die ooste van Pretoria, ʼn klipgooi oos van Solomon Mahlanguweg, in Grahamweg geleë.

Petrus du Bruyn en Suné Janse van Rensburg hys die skool se nuwe vlag. (Foto: Marinette de Bruin)

Die viering is as die ideale geleentheid gesien om ʼn nuwe vlag vir die skool bekend te stel. Ds. Hendrik du Plessis, ʼn oudleerling, het die onthulling waargeneem en die vlag is vir die eerste keer deur die hoofseun, Petrus du Bruyn, en hoofdogter, Suné Janse van Rensburg, gehys.

Op die wit, middelste baan van die vlag is twee embleme, wat die etos van die skool simboliseer, aangebring. Die ankerkruis simboliseer die Christelike, terwyl die wawiel die volkseie etos vergestalt.

Leerlinge help fluks om die gat vir die tydkapsule te grawe. (Foto: Marinette de Bruin)

Om iets interessants vir die volgende geslag te bied is ʼn tydkapsule vol boodskappe in ʼn gat verseël. Die hoofseun van 2014, dr. Waldo van Niekerk, het die tydkapsule-seremonie waargeneem en daar is besluit dat hierdie boodskappe eers oor tien jaar, in 2032 oopgemaak moet word.

Ds. Carl Vermaak van die Bybelgenootskap, oorhandig ‘n Bybel aan Maruis Kruger, die skoolhoof. (Foto: Marinette de Bruin)

Ds. Carl Vermaak van die Bybelgenootskap, wat ook ʼn ouer van ʼn leerder in die skool is, het ʼn Bybel met die skool se wapen voorop, aan die skoolhoof, Marius Kruger, oorhandig.

‘n Bybel met sy wapen op is aan die skool geskenk. (Foto: Marinette de Bruin)

ʼn Spesiale “Terugblik oor 30 jaar”-gedig is geskryf en voorgelees deur De Bruin.

In sy boodskap het Kruger gesê dat hy deur sy hele loopbaan nog nooit ʼn skool gesien het met so ʼn ryke kultuur soos CVO Pretoria, terwyl daar in sy kort leeftyd soveel uitdagings oor die skool se pad gekom het nie.

“In 2022 kyk ons met dankbaarheid terug oor 30 genadejare waarin die skool nou reeds meer as 320 matrikulante die grootmenswêreld ingestuur het, wat hulle plek in die samelewing volstaan,” sê Kruger.

‘n Kaskarresies het vir baie pret gesorg. (Foto: Marinette de Bruin)

Benewens die huidige leerlinge, ouers en grootouers, het verskeie oudleerlinge ook die verrigtinge bygewoon en kon hulle nostalgies terugdink aan die jare wat hulle daar deurgebring het.

Meer as 40 oudleerlinge was teenwoordig, wat ou bande weer opgetel en verstewig het. Awie Erasmus, die hoofseun van 2005, het namens die oudleerlinge ʼn boodskap gebring.

Tientalle stalletjies, ʼn kaskarbaan en ander speletjies en aktiwiteite het groot vermaak verskaf aan feesgangers en ʼn heerlike CVO-kuier moontlik gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

domheks ·

Doen so voort!!!! Baie geluk, mag daar nog BAIE mooi jare voorle.

Anel ·

Wonderlik!! Dit is ook wonderlik om so iets te lees. Die skool groei waar andere hulle skole afbrand. Maar dit is die Afrikaner kultuur! Ons sal self!. Baie geluk CVO Pretoria. Met God se genade wens ek julle nog baie geseënde en gelukkige jare toe!

Bees Boer ·

CVO-Skole is regoor die land. Besoek gerus indien u erns maak met u doopbelofte “om te leer en te laat leer”.

Ilena ·

Goeie berig. Mag julle van krag tot krag gaan. Alle eer aan ons Hemelse Vader

Magda ·

Pretoria CVO het dit net-net gemaak om eerste te wees. Dankbaar CVO in Bloemfontein se samesprekings was eerste en Dankbaar het nou saam met Pretoria 30 geword. Met enkele minute het hulle gewen met die amptelike besluit. :) Baie geluk aan beide skole. Julle doen uitstekende werk: Ter wille van ons kinders (en kleinkinders)

Casper ·

Bly op jou kniee, om op jou voete te bly. Baie geluk en doen so voort. Gee Hom die eer wat ons in staat stel om dit te kan doen.

Celib ·

CVO Dankbaar in Bloemfontein vier ook vanjaar sy 30ste verjaarsdag.

kaplyn ·

Ja, wie sal daardie Desember vakansie voor die Dankbaar CVO in Bloemfontein se opening in 1992 ooit vergeet. Daar is dag en nag gewerk om die skool in gereedheid te bring vir sy opening. Vrystaat Onderwys Departement het alles na ons kant toe gegooi om dit te verhoed. Maar die skool het geopen met 26 kindertjies . Wat my die meeste ontstel het was dat daar mense was (self uit Afrikaner geledere) wat gese het dat julle kinders sal nooit toelating kry om op `n universiteit te studeer nie. En hulle het. Vandag sit die grootste gedeelte van daardie kinders met grade wat hulle in SA en die buiteland verwerf het, ten spyte daarvan dat hulle in ‘n CVO skool en in Afrikaans onderig is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.