Eerste deel van Zondo-verslag vanaand beskikbaar

Pres. Cyril Ramaphosa (5 Augustus 2021) (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die eerste gedeelte van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping se lankverwagte verslag word later vanaand (Dinsdag) aan die publiek bekend gemaak.

Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdagmiddag by sy ontvangs van dié verslag by die Uniegebou in Pretoria gesê Suid-Afrikaners het geveg vir die totstandkoming van die kommissie, die kommissie se werk noukeuring dopgehou en het die grootste belang by die uitkoms daarvan.

“Die werklikheid is dat die verslag werklik aan die mense van Suid-Afrika behoort. Dit behoort nie aan die president nie… Ek het dus besluit om elke deel van die kommissie se verslag aan die publiek bekend te maak onmiddellik nadat dit aan my voorgelê is.

“Die eerste deel van die verslag sal dus binne die volgende paar uur op die presidensie se webwerf beskikbaar wees,” het Ramaphosa gesê.

Die volledige verslag sal teen 30 Junie aan die parlement voorgelê word.

“Eers nadat die finale verslag ontvang is, sal dit moontlik wees om volledige insig in die verslag se implikasies te kry en ʼn implementeringsplan na aanleiding van die aanbevelings te ontwikkel.

“Die regering sal dus nie uitsprake oor die bevindings of aanbevelings maak voordat hy die volledige verslag ontvang het en al drie dele daarvan oorweeg het nie,” het Ramaphosa gesê.

Maroela Media het vroeër berig die verslag word in drie dele aan die president oorhandig. Die tweede gedeelte sal teen die einde van dié maand oorhandig word en die laaste gedeelte – die finale verslag – teen die einde van Februarie.

Volgens Ramaphosa sal die regering wel begin om die dele van die verslag soos dit aan die presidensie voorgelê word, te oorweeg en die bevindinge en aanbevelings te verwerk.

Ramaphosa het die lankverwagte Zondo-verslag as ’n “bepalende oomblik in ons land se poging om die era van staatskaping te beëindig en die integriteit, geloofwaardigheid en vermoë van ons instellings en regering te herstel” bestempel.

Meer as 330 getuies het oor ʼn tydperk van byna vier jaar voor die kommissie, wat in 2018 met sy werk begin het, getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Maverick ·

Seker weer net gedeeltes sal vir die publiek gewys word dink anc ons is stupid

Perdeby ·

Die volledige verslag word op die website gelaai, en ek sien daar is al klaar 2 wat strafregtelik vervolg moet word, so die poppe gaan nou begin dans.

Esme ·

Die ANC sal NOOIT die volle verslag aan die publiek van Suid-Afrika bekendstel nie. Daar is baie bekende name, baie bekende gesigte, baie getuies en baie aantuigings wat gemaak is. ‘n Regerende party in onsekere tye, met onsekere agenda’s sal hulself nooit in die voet skiet nie.
Dink almal is bewus van al die bedrog wat alreeds plaasgevind het.
Daar is ‘n pragtige Engelse gesegde, wat lui, “I was born at night, but not last night!”
Dit wat uitgereik gaan word, gaan beperk word en dit gaan niksseggend wees.

Pieter ·

Maak vir wolf skaap wagter wat n grap. Dit gaan orals in afrika so hoekom sal dit dan nou hier anders wees.

annie ·

… en nou moet die vervolgingsgesag lewe kry of dalk ook gesuiwer word van weerstandiges en/of meelopers van vyande van die staat wat dalk reeds op meer as een terrein ingesypel het, soos beweer word. Ons parlement lyk nou soos die regering: Net nog ‘n mooi (berookte) fasade voor maar skade en skande en ‘n uitgebrande eerstewêreld-verlede agter… en biljoene rande om dit weer na iets te probeer laat lyk. Moenie te veel hoop nie.

Nie Verbaas ·

Hier kom alweer nog “vervolgings” waar sake jare gaan sloer waar niemand agter tralies sal eindig nie. ANC strategie. Kyk maar na Magashule, Malema en ons liewe oom Zuma. Niks sal hiervan ook kom nie. Ruggraat ontbreek en ANC dink ons almal is onnosel.

Christo ·

“I was surprised when I found out about………..” sal seker sy antwoord wees op die verslag!!

Michael ·

CR lag lekker-hy was al die jare bewus van al die ongerymdhede-niks gedoen nie-waarskynlik lekker voordeel getrek daaruit, hy en sy familie-nou word aan hom verslag gedoen-tipies die wolf wat skaapwagter speel

Sarel ·

Bekendstelling beteken niks…hoeverl jaar gaan dit neem.
pm te vervolg veral.met die SA Regstelsel wat Misdaad vriendelik is

Frans ·

Nou dat die kommissie bewys het wat die meeste mense reeds vermoed het,is die vraag wat gaan die President omtrent dit doen? ANC of Suid Afrika of ‘n kompromie wat niemand tevrede gaan stel nie.
Meeste bevrydingsorganisasie het ‘n rakleeftyd van 30 jaar.
Daarna span hul die veiligheidmagte in om aan bewind te bly soos in ons buurland.Hopelik is dit nie ons voorland nie.

Jacobus ·

Die ANC behoort die eerbare ding te doen, bedank. Alles uit die Zondo-verslag dui daarop, dat die ANC agter al die misdade en diefstalle is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.