Eerste e-tol-uitspraak gelewer

Argieffoto

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) meen die hofuitspraak waarvolgens ʼn skuldvonnis verkry is teen ʼn maatskappy vir uitstaande tolgeld, skep ʼn presedent vir toekomstige sake. Die Organisasie Teen Belastingmisbruik (Outa) meen dit is egter nie die geval nie.

Moneyweb berig Sanral het in die hooggeregshof in Pretoria ʼn skuldvonnis van R436 407,57 plus rente teen ʼn beslote korporasie (BK) in Alberton verkry.

Vusi Mona, woordvoerder van Sanral, het in ʼn verklaring gesê hulle beskou die uitspraak as ʼn presedent en meen dit beteken motoriste en maatskappye wat nie hul e-tolrekeninge betaal nie kan nou hof toe gesleep word.

“Ons is vol vertroue dat die verstekvonnis in ons guns oortuigend vir ander howe sal wees wanneer daar besluit moet word op daaropvolgende gevalle. Ons doen ʼn beroep op voertuigeienaars om vir e-tolskyfies te registreer en hul rekeninge gereeld te vereffen,” het Mona gesê.

Wayne Duvenage, voorsitter van Outa, wat al jare lank ’n veldtog teen e-tol voer, meen egter die hofuitspraak het niks te doen met die wettigheid van e-tol nie en dat dit ook nie ʼn presedent skep nie.

“Dit is net ʼn uitspraak teen iemand wat versuim het om ʼn kennisgewing te gee om hulself te verdedig nadat ʼn dagvaarding van niebetaling uitgereik is. Ons het kontak gemaak met die verweerder en hulle beweer hulle het nooit die dagvaarding ontvang nie en het derhalwe nie ʼn kennisgewing uitgereik om hulself te verdedig nie.”

Volgens Duvenage is die BK tans in ʼn vrywillige likwidasieproses en gaan Sanral sukkel om hul geld te kry. “Sanral het verlede jaar omtrent 6 000 dagvaardings uitgereik en ons het kennis gegee dat ons alle Outa-lede hierteen sal verdedig.

“Hoewel Sanral binne hul regte beweeg om op te tree teen diegene wat nie kennisgewing gegee het om hulself te verdedig nie, sien ons hierdie spesifieke aksie as nog ʼn goedkoop hou en daad van intimidasie wat bedoel is om die publiek te probeer dwing om hul e-tolskuld te vereffen.”

Volgens Duvenage hoop Outa om vanjaar nog die lank beloofde toetssaak te voer. “Sanral se pogings om verstekvonnisse te kry is gevaarlik aangesien hulle onskuldige mense in armoede of likwidasie kan dwing terwyl die kans groot is dat daar in die toekoms ʼn uitspraak sal wees dat die e-tolstelsel ongrondwetlik is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Jan Jooste ·

Ek glo Wayne Duvenage is reg dat ‘n verstekvonnis, waartydens meriete nie geargumenteer is nie, hoegenaamd geen regspresedent skep nie. Dit mag verder sinvol wees om in te gaan op die verweerder se verklaring dat hul geen dagvaardiging ontvang het nie – wat dan die verstekvonnis onder verdenking sou plaas.

Anne ·

Sanral sal enige ding probeer om hulself te verryk maak nie saak of hul hul eie kinders is armoede dompel nie. Mens wil nie beledigend raak nie, maar ai gebruik jou verstand God het dit verniet vir jou gegee.

Ella ·

Ek begin geduld verloor met hierdie hele boksemdaais en ek sluit OUTA hier in by die groep wat my warm onder die kraag het. Hierdie hele lomp, belaglik-duur e-tol elektronika-stelsel is in SA gestort deur ‘n Europese maatskappy wat moes rondspring soos ‘n kat op warm sink nadat ‘n projek in hulle eie land na groot openbare teenkanting post-implementering geskrap moes word juis vanweë die relatiewe hoë koste. Hoekom vat dit ons so lank om dieselfde resultaat te bereik?

Piet ·

Ek verstaan nie wat is dan verkeerd met OUTA nie, jy stem mos saam met hulle dat die etol stelsel belaglik is? Hulle beveg dit mos van die begin af in die hof. Wat het jy gedoen om die etol te beveg, behalwe om nie te betaal nie?

Kasta ·

Ek SAL NIE aan korruptes daardie geld oorhqndig nie, dit is my morele plig om nie die korruptes verder te finansier nie.

Flintstone ·

Ek stem saam Kasta!Om soos die res van Afrika,geld op ‘n korrupte wyse te probeer bekom,gaan teen my grein in.Die hoofpaaie in gedrang bestaan nog voor die “nuwe SA” ontstaan het,en net omdat ‘n buitelandse maatskappy sekere immorele individue met omkoopgeld bearbei beteken nie ek moet verdruk word agv.hulle onderduimsheid nie.Is die reël in ‘n veronderstelde westersedemokrasie dan nie dat belastinggelde gevorder word om oa.die land se infrastruktuur in ‘n begaanbare toestand te hou nie??Ander vreesbevange individue kan hulle maar laat intimideer en die juk om hulle nekke plaas.

Skim ·

OUTA moet dan nie verder voorgee dat hy mense kan help wat nie hulle etolls betaal nie. Baie mense het aangesluit met die hoop dat hulle regshulp gaan ontvang, maar dit lyk asof jy weereens NIKS kan doen as SANRAL op jou case is nie. Dis so tipies, almal njap njap en sê hoe onregverdig tol is, maar met die EERSTE saak back paddle almal.

Jan Jooste ·

Outa sal natuurlik help. Hierdie BK het geen hulp gevra nie, omdat hulle in likwidasie gaan. Ek verstaan dus nie waarom hul vonnis dan OUTA se verantwoordelikheid is nie???

Steven ·

Ek het een keer die pad gebruik en n rekening van R5 gekry. Ek het die tel.. No op die rek.. Gebel om te hoor of ek dit met eft kan betaal. Baie verbaas toe ek hoor die no. Bestaan nie. Nou los ek dit Maar.

JoeV ·

Die rekeninge is vreeslik deurmekaar, soms is dit 32k, die volgende een is 7k, dan is dit weer 23k, een was 12k, so mens weet nie regtig wat om daarvan te maak nie.

Gerhard ·

Ek is so bly jy betaal Jonatahn,daar is nie pille vir bangbroeke nie.

danie ·

As jy die man as n bangbroek uitkryt, omdat hy vir iets betaal wat hy gebruik. Dan neem ek aanons almal Iis bang broeke wat as ek iets by spar gaan haal betaal ek ook daarvoor. En as jy nie wil betaal vir etol nie moet dan dit nie gebruik nie.

Cacophony ·

Jonathan. Jy het veslis die verkeerde naam beet. Eerder Judas?
Verraai jy lekker beginsels deur jou swaar verdiende senteboor te betaal aan hierdie onetiese immorele stelsel?

Loeis ·

Adv Anton Alberts van Vryheidsfront Plus het ‘n Sanral verteenwoordiger in die parlement gevra of Sanral se instrumente aan die vereistes voldoen. Die antwoord was nee.

Weet iemand wat hiervan geword het? Dalk is dit tyd dat ‘n hof hieroor uitspraak moet lewer.

Josua Keys ·

Almal wou vir Hellen Zille kruisig omdat sy Kolonialisme gebruik het om n stelling te maak om mense te verduidelik vanwaar tegnelogie in SA afkomstig was sy was dan kwansuis nou n rassis, nou hardloop dieselfde mense wat haar wou kruisig as ‘n rassis hof toe om Europese tegnelogie te verdedig, waarom breek hulle nie die tolhekke af of steek dit aan die brand nie want die oorsprong is ook tog van koloniale tegnologie afkomstig wil ek graag weet, Fusi en die geliefde ANC wat is jul verduideliking of maak dit nou vir julle sin wat sy regtig bedoel het? Solank geld uit dit gemaak kan word word kolonialisme skielik by die deur uit gevee. Soos die ou gesegde gaan, Haal eers die balk uit jou oog uit voor jy dit vir ander wil doen.

johan II ·

Ek sal nie n duiwel betaal nie…wat kan ek verloor? Oor 5 jaar gedwing word om dit af te betaal of die kaans om die geld te wen..verder twyfel ek sterk of hul stelsel kan bewys dat dit ek was wat met my kar elke keer deur elke hek gery het…nee wat jy is veilig.

vermeende ·

Net my 5c
Die e-tol stelsel loop oor die grense van n paar stadsrade!
Waar sit die kantoor wat die dagvaardegings uitreik, in Stadsraad 1.
Waar het die gebruiker die oortreding begaan, binne die grense van Stadsraad 2 of 3 natuurlik.
Nou hoe is dit moontlik dat een stadsraad jou kan aankla en verhoor vir n oortreding in n ander stadsraad??

Tinus ·

Ek verstaan geheel en al dat mense nie wil betaal nie. Niemand hou daarvan nie, maar dit lyk vir my of niemand onthou dat daardie paaie lank gelede as tolpaaie geklassifiseer is nie. So, sê vir ons wat julle wil hê: Die e-tolstelsel waar jy maklik en vinniig vorder, of wil julle deur tradisionele “booms” ry en elke keer stop en betaal?

JoeV ·

Dit gaan nie oor hoe vinnig en maklik mens ry op die pad nie (een uur per 20km in spits tyd). Dit gaan oor die koste van die projek in die eerste plek, wie bevoordeel is deur daardie hoë koste, en dan waar die geld gebank word. Lees meer hieroor op outa se web blad dan sal jy verstaan. Dit maak nie sin dat 70% van die inkomste uit tol geld in die buiteland moet wees nie, doen dit?

JoeV ·

Die saak is nikseggend in die sin dat dit deel is van ‘n liwidasie waar skuld eisers hulle eise net byvoeg by die ander eisers.
Vir die doel om persone wat weerstand bied te vervolg sal daat bewys moet word dat die hele geleentheid wettig is. Of die stelsel deur wette beskerm word al dan nie, hoe beinvoed dit persone se regte, dit is waaroor uitspraak gegee moet word voor die stelsel aanvaar kan word.

Manie ·

Hierdie tolpaaie is die erf lating van die korrupte sokker wat hier aangebied is. Net n paar individue is verryk en die res moet betaal. Daardie paaie was reeds daar en net opgegradeer. Die regering gaan my nie maak betaal vir hulle korrupsie

Hans ·

Lyk my outa is ook besig om kleinkoppie te trek.Iemand gaan vir die e-tol flatermoet betaal en ons almal weet wie dit is.Outa word ryk en e-tol nog ryker.

Hans ·

Al hoe ons hierdie een gaan wen is as almal vasstaan en nie betaal nie.Die e-toll is n” western thing”.
Voor 1994 het ons nie sulke snert gehad nie.

Hans ·

Ons betaal alreeds belasting op belasting op belasting op belasting tot die mag miljoen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.