Eerste fase van renoster-skuif suksesvol

Argieffoto Foto: isotherm.co.za

Argieffoto Foto: isotherm.co.za

SANParke het Donderdag aangekondig hy het suksesvol die eerste fase van sy renosterskuifprogram in die Krugerwildtuin afgehandel.

“Volgens die program word ʼn aantal renosters uit gebiede verwyder waar hulle veral kwesbaar is vir stropery,” het prof. Gerry Swan, voorsitter van SANParke se bewarings- en toerismekomitee, in ʼn verklaring gesê. “Die fokus van die eerste fase was om die renosters in die gebiede te vang en na veiliger dele in die wildtuin te skuif. Dit is gebiede waar ʼn bykomende ontplooiing van hulpbronne en tegnologie ʼn veiliger omgewing vir die renosters skep.”

Altesaam 29 renosters is tussen Oktober en November uit kwesbare dele na veiliger dele geskuif. Sewentien renosters is met ʼn spoortoestel toegerus en word gevolglik dopgehou. “Die moniteringsprogram dui daarop dat die renosters goed aanpas binne die bestaande renosterbevolking in die betrokke gebiede,” het Swan bygevoeg. “Nie een van die renosters wat geskuif is, is tot dusver gestroop nie.”

Kuseni Dlamini, voorsitter van die SANParke Raad, het gesê die renosters is “veilig” en “pas goed aan”.

ʼn Aantal renosters is ook na ander nasionale parke en bewaringsgebiede geskuif.

Die Krugerwildtuin het ook intussen 22 aanbiedinge ontvang van persone wat ʼn aantal renosters wil koop. Die verkope van renosters aan privaat eienaars wat aan al die veiligheids- en habitatvereistes voldoen, is deel van die algehele strategie om die aanwas van ʼn lewensvatbare renosterbevolking te verseker, het Swan gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.