Eerste foto van nuwe tongverplasende luisspesie

Die nuwe tongverplasende luisspesie. (Foto: Don Marx/Twitter)

ʼn Marinebiologiestudent aan die Universiteit van Wes-Kaapland het tydens ʼn hengelekspedisie in Struisbaai die eerste foto van ʼn nuwe spesie tongeverplasende luis geneem.

Don Marx het die enorme organisme in ʼn silwervis se mond opgemerk, waarna die foto na prof. Nico Smit van die Departement Dierkunde aan die Noordwes-Universiteit gestuur is wat reeds jare lank sulke spesies bestudeer.

Die reusagtige 6,5 cm Ceratothoa springbok-luis is onlangs uit museummateriaal deur Smit en sy kollega, dr. Kerry Hadfield, benoem en beskryf.

“Ons het besluit om die luisspesie ʼn naam te gee wat uniek is aan Suid-Afrika en dadelik met ons land vereenselwig kan word. Die Springbok is eie aan ons land en die Springbokke is ʼn indrukwekkende groep mans, net soos hierdie organisme wat massief en uniek is,” sê Smit.

Die luis is deel van ʼn groep van 400 spesies wat gespesialiseer is om op visse te leef. Die Ceratothoa springbok is egter verder ontwikkel en voed nie op die bloed van die vis soos ʼn parasiet nie, maar word ʼn uitbreiding van die vis se liggaam.

“Die manier waarop die luis vasklou veroorsaak dat die vis se tong afvrot. Dit vervang dus die vis se tong. Die luis se harde eksoskelet laat dit toe om kos na die vis se verhemelte toe te druk, waarna dit ingeneem word.

“Die organisme moet in effek in die vis se mond bly vir die vis om te oorleef. As die isopood doodgaan, dan gaan die vis ook dood want dan het hy nie meer ʼn tong nie,” sê Smit.

Hierdie luis is die eerste voorbeeld van een organisme wat ʼn liggaamsdeel van ʼn ander een vervang.

“Die luis is ook baie uniek aangesien dit as klein larwe binne die vis vervel en in ʼn mannetjie verander. As daar nie reeds ʼn wyfie in die vis is nie, word die mannetjie ʼn wyfie om die spesie se voortbestaan te verseker. Die wyfies word enorm groot sodat sy baie larwes kan produseer. Hulle grootte word eintlik net beperk deur die grootte van die vis se mond.”

As daar reeds ʼn wyfie in die vis se mond is, skei sy feromone af sodat die mannetjie nie in ʼn wyfie verander nie. Die twee bly dan saam in die vis se mond, terwyl die wyfie eksponensieel groei en die mannetjie redelik klein bly.

“Daar is egter baie wat ons nie van hierdie nuwe spesie weet nie. Hoewel tongverplasende luise nie ʼn nuwe verskynsel is nie, weet ons baie min van die biologie van hierdie spesie asook van sy lewensiklus.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Zacahara

Werklik interessant.,,!!!

katerinadiekat

Makes me think of that famous line from the Alien movies: “Nuke it from orbit”

Johan

Hel, dis grillerig verby!!!! Hy kyk jou in die oe op daai foto

Dottie

Amazing!!!!

thejudge

Hierdie storie lees ek al meer as 2 jaar op plekke soos Reddit, BoredPanda ens, MET fotos. Nie so ‘n nuwe verskynsel nie.