Eerste gefossileerde spore van talle diere in SA gevind

Talle spore van diere, waarvan die spesies uitgesterf het, soos die buffel en perd (sebra) is op “Megafauna Rock” in die Suid-Kaap gevind en beskryf. Foto: SAJS

Die eerste gefossileerde spore nóg in Suid-Afrika van ʼn olifant, renoster, uitgestorwe Kaapse sebra, en ʼn uitgestorwe langhoring-buffel is in die Suid-Kaap gevind.

Dié navorsing rondom dié ontdekking is pas in die vakjoernaal South African Journal of Science gepubliseer. Die spore is tussen 128 000 en 116 000 jaar gelede, oos van Stilbaai gemaak, sê dr. Charles Helm, wat dié navorsing gelei het, en verbonde is aan die African Centre for Coastal Paleaoscience in Port Elizabeth.

Die seevlak was destyds daar vyf tot ses meter hoër as wat dit vandag is.

Die spore is op sandduine gemaak en vandag bestaan dit uit twee rotse genaamd “Roberts Rock” en “Megafauna Rock”. “Roberts Rock” het afgegly en toe in twee gebreek in 2009 en verskeie spore blootgelê, onder meer dié van jong olifante en wildsbokke. Intussen het dié rots in die see gegly en ʼn ander rots het van die styl helling afgegly – daarop is spore van voëls, goudmolle en nog olifante gevind.

In 2016 is nog ʼn groter rots (5 m x 5 m x 2,5 m hoog), “Megafauna Rock”,  sowat 420 m verder raakgesien met nog meer spore. Dr. Matin Lockley van die Universiteit van Colorado in Denver, ʼn gerekende kenner in ignologie, die studie van gefossileerde spore, het ook die terrein besoek en aan die studie deelgeneem.

Die eerste spoor van die reuse- Kaapse sebra of “perd” (Equus capensis) kom op “Megafauna Rock” voor. Dit is twee keer groter as dié van hedendaagse sebras wat tipies 10 cm lank is. Die spoor is ook betreklik breed.

Die eerste gefosilleerde voetspoor ooit van die uitgestorwe Kaapse sebra of “perd” is opgespoor, oos van Stilbaai op “Megafauna Rock”. Foto: SAJS

Helm het gesê hulle het intussen nog terreine gevind met spore van die uitgestorwe Kaapse sebra. Die unieke dier het tussen 10 000 en 12 000 jaar gelede uitgesterf en word beskryf as ʼn tipe sebra, maar was effe kleiner as vandag se grootste perde. Hulle was wel byna dubbel so swaar (450 kg) as die bergsebra en die kwagga.

Die langhoring-buffel (Syncerus antiquus) het ook om en by dié tyd uitgesterf. Dié buffels het tot 2 000 kg geweeg en het buitengewone lang horings gehad wat elk tot ʼn meter lank kon raak. Dit is moontlik dat hulle uitgesterf het weens klimaatsverandering en weens die styging van die seevlak wat hulle habitat sou benadeel het.

Die olifantspore, op albei rotse, verteenwoordig van die mees suidelike olifante wat nog in Suid-Afrika gevind is. Dit is soortgelyk aan dié wat vandag nog leef. So ook die renosterspoor, die eerste renosterspoor in die fossielrekord in Suid-Afrika.

Daar is ook spore van ongewerweldes en diertjies wat in die duine ingegrawe het, voëls en kameelperde gevind. Dit gee ʼn goeie blik op hoe lewe op die duine destyds in die Suid-Kaap was waar dit gewemel het van lewe. Saam dra dié inligting by tot die begrip van die megafauna van die Laat Pleistoseen.

Helm het gesê moderne spoorsnyers gebruik verskeie maniere om na vars spore te kyk. Sulke rye spore is gewoonlik lank en kan vir ʼn afstand gevolg word sodat sekere gedrag afgelei kan word. Deur spore te vergelyk kan sekere afleidings gemaak word. Kenners in ignologie sien gewoonlik net ʼn een spoor of ʼn paar en moet soveel as moontlik daaruit aflei.

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut-wetenskapjoernalis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Cherokee ·

Elsabé, daar botsende stellings in die artikel. In die derde paragraaf word beweer dat die seevlak daar sowat 5 tot 6 meter hoër was as vandag, wat beteken die seevlak het gedaal, maar later word geraai dat die styging in seevlak hul habitat verinneweer het en dat dìt tot hul uitsterwing kon lei. Maar inderwaarheid interessant, dankie.

Elsabe Brits ·

Nee daar is geen botsing nie. Die seevlak was 5 tot 6 met hoe”r gewees toe die spore gemaak is tussen 128 000 en 116 000 jaar gelede. Maar die spesies het eers uitgesterf tussen 12 000 en 10 000 jaar gelede. Die spore is nie gemaak toe hulle uitgesterf het nie, maar lank voor dit. Die seevlak het later weer gedaal.

Kwaaitjie ·

Is dit nie miljoene jare oud nie?? Wil mos vir almal vertel aarde is miljoene of biljoene jare elkeen het sy eie getal!!

Let Op ·

Nee Kwaaitjie, die spore is kosmiese tyd nou onlangs eers gemaak. Nie te lank voor dit nie (64miljoen jaar) is dinosaurisse uitgewis. Die aarde is so effe langer as dit hier rond. Ongeveer 4.3 biljoen jaar, give or take so 10 miljoen of wat.
120 000 jaar is in kosmiese tyd bietjie vroeër vanoggend gewees.

Abe ·

Kwaaitjie,
Nee, elkeen het nie sy eie getalle nie. Huidige konsensus is dat die aarde so 4.3 biljoen jaar oud is, soos Let Op hierbo ook se. Die mense wat die Bybel geskryf het kon dit nie geweet het nie, daarom is die ouderdom van die aarde soos jy dit van die verhale en genealogiee in die Bybel kan aflei, nie naasteby korrek nie.

Abe ·

Elsabe Brits,
Baie dankie vir die uiters interessante en leersame berigte wat jy van tyd tot tyd laat verskyn. Van die kommentare wat hier verskyn is duidelike bewys daarvan dat onkunde oor sulke belangrike dinge soos die vroee geskiedenis van die mens en die aarde nog baie wyd strek.

DeVill ·

En hier sit ek en dog die wêreld is maar ‘n paar duisend jaar oud….soos die Bybel my geleer het?

Volgens die Bybelse verhale so ongeveer 6500 jaar, maar hierdie ouens grou dan nou spore op van 120 000 jaar?

Wie is dan nou verkeerd? Die Bybel of hierdie wetenskaplikes?

Salamander ·

Jy gaan sooibrand kry as iemand jou begin vertel hoe oud die aarde werklik is.

Francois le Cochon ·

@DeVill. Jy moet ook net in gedagte hou dat 10 000 jaar voor Adam en Eva, het Chinese al met bote op die see gevaar.

ALLIE ·

Devill….ek verstaan jou denking…..my ook gelpa.
Adam en Eva het gebly in die Tuin van Eden tot en mey die sondeval.
Die oombil toe hull uitgeskop word het tyd soos mens dit meet begin tik.
Ek weet nie hoe laank hulle binbe die Tuin was nie …1000jr…..6000jr….200 000jr of miljoen…hulle was wel immortal in die Tuin.

ALLIE ·

Die aarde is baie oud. 6500 jr vandat Adam en Eva uit die Tuin geskop is….maar terwyl in die tuin was hulle immortal…en ongeveer 13-16 jaar van ouderdom.
Daar kon honderde duisende of miljoene jare of nog meer verby gegaan het terwyl hulle in die tuin was. Hulle sou dit nie gevoel het nie
En onthou daar word gepraat in die Bybel vd Toemalige Wereld….dws was klaar geform en toe vernietig met water en toe weer geskep vir die 2de keer.
Gen. 2 v 2: “En die aarde (was) woes en leeg en duistetnis was op die wereldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.”
Was in hakkies is verkeerd vertaal…die moet einlik lees ” en die aarde het woes en leeg geword” volgens die oorspronlike hebreuse Torah en Strongs exhaustive concordandce woiedeboek.

Johan ·

Ek glo liewer die WOORD van die HERE. Die mens is bedreiglik en lieg te maklik . Lewe op aarde is sowat 6018 jaar . Die aarde self , weet net die Here

Abe ·

Johan,
Ek stel voor dat jy n bietjie oplees oor die ouderdom van die aarde en oor die ontstaan van lewe op die planeet. Laat ek sommer nou vir jou se: dit is uiters interessant en die moeite werd.

t ·

Regstelling:
6018 jaar, 4 maande, 7 dae, en 14 uur op GMT vandag 6 uur.

Abe ·

t,
Jou syfers klink baie indrukwekkend, maar dit kan onmoontlik nie reg wees in die lig van wetenskaplike feite nie.

Dirk de Hart ·

ongeveer 1957 het ek en my maat Edie (dr Harvey) n mensspoor in klip in die Katrivier op Middelwater , Prieska gesien.

Abe ·

Dirk de Hart,
Wonderlik, het iets daarvan gekom? Is dit ondersoek, geidentifiseer of gedateer? Oor so n wonderlike ding sal MM ons toelaat om bietjie te gesels!

Julie J. van Rensburg ·

Ek was vroeëer jare terug in die media bedryf, en eendag sit ek en ‘n kollega sommer en gesels – juis oor die Skepping. Hier op ‘n kol seg my kollega: “Kyk, as jy regtig jou kundigheid as joernalis wil bewys, skryf dan ‘n berig oor die eerste dag van die Skepping…” Daar is nou ‘n kopkrapper – per slot van rekening was die aarde woes en leeg – volgens Genesis – met ander woorde, NIKS behalwe duisternis nie… WAAR begin mens so ‘n verslag – sê maar vir die media – te beskryf?

Abe ·

Julie J van Rensburg ,
Hoekom skryf jy nie vir MM so’n verslag nie? Ek sal dit verslind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.