Eerste groot oorsigvergadering toon verskille tussen ANC en opposisie

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die staatsrede 2019 (Foto: GCIS)

Die eerste vergadering van die parlement se belangrikste oorsigkomitee, die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge (in die omgang bekend as Skoor), onder leiding van die nuwe voorsitter, Mkhuleko Hlengwa van die IVP, het vanoggend belangrike verskille in die benadering van die ANC en die opposisie tot die kwessies voor die komitee geopenbaar.

Skoor is die enigste komitee in die parlement wat nie ‘n ANC-voorsitter het nie. Dit het ook die wydste oorsigmandaat van enige parlementêre komitee, want dit is verantwoordelik vir oorsig oor alle departemente in die staatsdiens en alle staatsbestuurde entiteite – nie net ʼn enkele departement soos die ander parlementêre oorsigkomitees nie.

Terselfdertyd het die ANC steeds die meerderheid setels op Skoor, so dit kos fyntrap tussen die voorsitter en die meerderheidsparty om die werk te laat vlot – as enigeen van die twee dwars trek, kan die belangrike oorsigtaak tot stilstand knars.

Dat dit ʼn wesenlike toekomstige gevaar is, het uit vanoggend se Skoor-vergadering geblyk. Die amptenary van die komitee, met die duidelike instemming van Hlengwa as voorsitter, het prioriteite vir die werk van die komitee geprioritiseer. Dit het egter verskil van die prioriteite wat die ANC-sweep in die komitee, Mervyn Dirks, as prioriteite vir die ANC gestel het.

Dirks, ʼn ANC-parlementslid uit Pietermaritzburg, is bekend as ʼn lojalis aan die faksie van oudpres. Jacob Zuma en die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule. Dit het vanoggend duidelik geblyk uit die voorkeure wat hy uitgestippel het.

Van die kant van die komitee-amptenare is klaarblyklike korrupsie in die departement van openbare werke en die departement van water en sanitasie voorop gestel, asook die nagaan van die state van verskeie staatsbeheerde instellings, soos die lugdienste SAL en SA Express, die bosboumaatskappy Safcol, die wapenvervaardiger Denel en die Nasionale studentehulpskema NSFAS.

Binne die departement van water en sanitasie is die waterhandel-owerheid (Water Trading Entity) spesifiek uitgewys vir optrede teen amptenare betreffend korrupsie en wanbesteding. Daar blyk ook probleme te wees met die bedrae wat die departement moes betaal vir boorgate in die Giyani-omgewing en met kontrakte vir inligtingstegnologie.

Ook die polisiediens is in die visier, by name ongerymdhede in die afdeling vir forensiese data-analise, asook die voormalige polisiekommissaris, genl. Khomotso Phahlane se beweerde betrokkenheid by wanbestuur. Interessant genoeg word navorsing oor Phahlane se rol in die wiele gery deur die feit dat sommige inligting wat Skoor probeer bekom, as geheim geklassifiseer is.

Die SAUK is nog ‘n instelling wat deur Skoor ondersoek gaan word, asook Eskom, met besoeke aan die nuwe kragstasies, Medupi en Kusile, wat in die vooruitsig gestel word.

Dirks se prioriteite was ietwat anders. Oor Eskom het hy slegs gesê daar moet vasgestel word hoe sommige maatskappye sedert 1994 reeds voordeel trek uit kontrakte wat vir ‘n tydsduur van tot veertig jaar aangegaan is.

Hy wil ook ondersoeke hê na die funksionering van die nasionale tesourie en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens – twee gunstelingteikens van die Zuma-faksie. Dirks is egter wel van mening dat die probleme by die SAL ondersoek verg.

Aangesien hy die gewoonte het om nie sy sinne te voltooi nie, was dit nie altyd presies moontlik om te verstaan wat Dirks bedoel nie, maar dat die moontlikheid van groot verskille tussen die opposisie en die ANC se prioriteite vir Skoor bestaan, ly geen twyfel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Klipindiebos ·

“As demokrasie eerlikheid begin ondermyn”, ‘n goeie tema vir ‘n boek. Net in Engels natuurlik, sodat almal in die parlement dit kan verstaan. Miskien kry ons dan die “eenheid in verskydenheid” waarvan almal droom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.