Eerste handelsvlug van SAL se A350

Argieffoto (Foto: Joao Carlos Medau/Wikimedia Commons)

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens het die eerste plaaslike handelsvlug onderneem met sy Airbus A350-900.

Die SAL het gesê die vliegtuig het Dinsdag omstreeks 10:00 as vlug SA323 van Johannesburg na Kaapstad vertrek en omstreeks 16:00 teruggekeer as vlug SA336.

“Dis lekker om vir ons klante ʼn uitsonderlike ervaring te bied met die handelsblootstelling van die nuwe Airbus A350-vliegtuig. Dit bied die stilste kajuit van enige tweerye-vliegtuig,” het Zuks Ramasia, waarnemende uitvoerende hoof van die SAL, gesê.

Dit is een van vier nuwe Airbus A350-900-vliegtuie in die SAL se vloot.

“Die gebruik van die A350’s sal ʼn bydrae lewer tot die lugdiens se bedryfsdoeltreffendheid en vorm deel van die vloothernuwing om seker te maak die SAL kan sy klante beter bedien.”

Nog roetes sal ingestel word vir die A350-900’s, soos die SAL se ultra-langafstandvlugte tussen Johannesburg en New York se John F Kennedy Internasionale Lughawe, aldus ʼn verklaring wat die lugdiens uitgereik het. Die A350 vervang die A340-600.

Die vliegtuie het ʼn maksimum van 339 sitplekke, waarvan 30 besigheidsklas en 309 ekonomieseklas-sitplekke is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.