Eerste hoender-tot-hoender-voëlgriepgeval

Foto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Drie Vrystaatse hoenderplase is die jongste slagoffers van die hoogs aansteeklike voëlgriep H5N1. Die departement van landbou en landelike ontwikkeling het bevestig dat die virus op plase naby Villiers, Parys en Wesselsbron uitgebreek het.

“Die drie plase behoort aan een maatskappy en die siekte het versprei nadat hoenders tussen die plase geskuif is,” sê Izaak Breitenbach, algemene bestuurder van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPA). Die hoenders wat geskuif is was aanvanklik gesond, maar het eers simptome begin toon nadat hulle tussen die ander hoenders geplaas is.

“Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie die eerste geval is waarin wilde voëls nie verantwoordelik vir die oordrag is nie,” sê hy.

“Vanjaar het die virus middel April uitgebreek en sedert die eerste uitbreking tussen Randfontein en Potchefstroom het ons elke keer ʼn variant opgetel wat van Europa afkomstig is. Selfs in die geval verlede week in die Wes-Kaap waar dit gelyktydig op drie plase uitgebreek het, is daar drie verskillende variante geïdentifiseer.”

Breitenbach sê hulle het tydens die vorige uitbreking in 2017 baie lesse geleer. “In 2017 het 90% van die uitbrekings in die Wes-Kaap plaasgevind. Die rede is dat die damme en oppervlaktewater in die provinsie die migrerende watervoëls uit Europa lok en tussen die berge vaskeer. “Aangesien watervoëls in vrot water kan oorleef het hulle ʼn sterk immuunstelsel. Die wat die virus onder lede het, kan dit derhalwe lank dra voordat hulle doodgaan, wat die kanse verhoog dat hulle die siekte na hoenders oordra. Ons het ook gevind dat die virus 90% van die kere uitbreek op plase wat naby water is.”

Breitenbach sê hulle het in 2017 ook geleer dat die virus net vir drie maande manifesteer. “Na die eerste infeksie het dit sterk toegeneem en binne ʼn kort tyd ʼn piek bereik voordat dit weer vinnig afgeneem het. Ons voorsien dat dit vanjaar weer sal gebeur.

Izaak Breitenbach is die hoofbestuurder by die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPA) (Foto: Twitter)

“Om voëlgriep vroegtydig op te spoor het ons in 2017 met ʼn baie doeltreffende stelsel vorendag gekom waarmee ons 900 hoenderplase landswyd monitor. Sodra ʼn boer hoër [vlakke van] morbiditeit of mortaliteite as gewoonlik onder sy hoenders opmerk, stel hy SAPA dadelik in kennis. Dan kom die veeartse uit en verklaar ʼn drie kilometer-kwarantyngebied om die plaas. Alle ander hoenderboere in die gebied mag dan eers enige hoenders of hoenderprodukte skuif sodra die veeartse hulle plaas veilig en hulle trop virusvry verklaar het.”

Daar is nog nie ʼn teenmiddel vir die virus ontwikkel nie en die bekamping van die virus is dus drasties. “Die prosedure op ʼn besmette plaas is altyd dieselfde. Die positiewe hoenders word op die perseel van kant gemaak en gekomposteer. Selfs die eiers word tot niet gemaak. Dit vind plaas onder toesig van die staatsveearts. Hulle kan ook ʼn besluit neem oor die lot van die hoenders in ander hokke asook op plase binne die drie kilometer radius,” sê hy.

Hoewel H5N1 ʼn voëlsiekte is en hoogs onwaarskynlik deur mense opgedoen kan word, mag geen hoederprodukte in die voedselwaardeketting opgeneem word nie, maar SAPA verseker die publiek dat daar tans nie ʼn tekort aan hoenders en eiers is nie. Hulle verwag ook dat die siekte voor Augustus sal piek en dan afneem.

Voorverlede week is die eerste geval van ʼn persoon wat deur die skaars H10N3 aangesteek is, in China aangeteken. “Hierdie is ʼn geïsoleerde geval en ons moet die omstandighede daar rondom verstaan,” sê Breitenbach. “Die bestaansboere in die Ooste leef baie na aan hulle diere en laat selfs die diere in hulle huise slaap. Dit lei tot hoë en langdurige infestasievlakke wat die volmaakte klimaat skep vir virusse om te muteer en sodoende die geringe kans verhoog dat ʼn mens dit kan opdoen.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ilse ·

Die inligting hierin is ongelukkig nie korrek nie. My dogter is ‘n staatsveearts en sê die siekte kom van wilde voëls af, maar sodra dit in die hokke is word dit nog altyd deur die hoenders na mekaar versprei. Dis nie iets nuuts nie!

‘n Besmette mossie kom bv in en gee dit vir een hoender. Onmoontlik kan daai mossie by 35000 ander hoenders ook uitkom!

Du Preez de Villiers ·

More Ilse, baie dankie vir die kommentaar. Die persoon wat in die artikel aangehaal word stem 100% saam met jou. Let wel die artikel praat van die verspreiding tussen hoenders in verskillende hokke of plase. Hoenders kan mekaar binne-in hokke aansteek, maar wanneer daar nie interaksie tussen hoenders van verskillende hokke of plase is nie, of geen interaksie tussen wilde voëls en hoenders is nie, sal die siekte nie verder as die bepaalde geslote area versprei nie.

Piet parys ·

Ja die wereld is vrot van siektes dis net n seën dat ons nog leef . Groot skade vir pluimvee eienaars

Francois ·

Net interessant dat sou die migrerende watervoëls uit Europa die siekte bring, die uitbraak eers plaasvind gedurende die tyd wat die meeste van dié voëls reeds weer teruggekeer het en die siekte nie al vroeër uitgebreek het nie. Tot die beste van my kennis is daar ook, behalwe in die vere noord-weste van Afrika (Mali, Niger, Nigerië, Senegal), nog geen ander H5N1 gevalle in Afrika gerapporteer nie so geen “besmete voëls” het in enige van die ander lande geland nie.

Sover Europa betref is H5N1 uitbrake in die afgelope paar maande in Duitsland, Denemarke, Finland, Frankryk, Roemenië en Slowakye en Kambodja in Asië aangemeld maar geen van die wildevoël spesies wat in daardie lande positief getoets het, is spesies wat na suider-Afrika migreer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.