Eerste konsep van US-taalbeleid bekend

universiteit-stellenbosch

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Die Universiteit Stellenbosch (US) kry steeds die wind van voor oor Afrikaans nadat die universiteit Saterdag die eerste konsep van sy hersiene taalbeleid bekend gemaak het.

Die bekendmaking van die konseptaalbeleid het ten doel om belanghebbendes uit te nooi om kommentaar op die konsep te lewer.

Dr. Leon Schreiber, DA-LP en die party se kiesafdelingshoof in Stellenbosch, het vanoggend aan Maroela Media gesê daar is geen twyfel dat “’n verdere afwatering van die Afrikaanse aanbod by die US” in die konsep gesien kan word nie.

Schreiber het egter spesifiek die aandag op die US se definisie van “inheemse tale” aan die einde van die konsep gevestig en sê dié definisie laat dit lyk of die US nie meer Afrikaans as ’n inheemse of Afrikataal beskou nie.

Die US se definisie van inheemse tale lui: “Die term verwys na tale waarvan die erfenis in Afrika wortel en wat tot die Suid-Bantoetaalfamilie behoort (met ‘Bantoe’ in die suiwer taalkundige betekenis). Literatuur en sommige politieke dokumente praat ook van ‘Afrikatale’ om na hierdie tale te verwys.”

“Dit is absurd en onwaar,” sê Schreiber.

Hy wys daarop dat nié net Afrikaans deur die definisie as inheemse taal uitgesluit word nie, maar ook Khoisan-tale.

Schreiber het ook vrae rakende die verwysing na “politieke dokumentasie” in die betrokke definisie. “Na watter politieke dokumente word daar verwys en getuig dit van ’n politieke agenda?”

Die DA beoog om Sondag op Menseregtedag ’n petisie uit te stuur waarin die publiek hul steun kan gee vir gelyke status aan Afrikaans en Engels op Stellenbosch. Die party sal dan reeds sy kommentaar op die US se konseptaalbeleid bekend maak. Lede van die publiek word genooi om ook hul sê rakende die konsep by te voeg.

Universiteit Stellenbosch (Foto: US)

Die konseptaalbeleid

Die US nooi belangstellendes om kommentaar op sy die eerste konsep van sy hersiene taalbeleid te lewer.

Die eerste tydperk vir openbare deelname begin reeds vandag en sluit op 12 April 2021. ʼn Tweede geleentheid vir openbare deelname word vir later vanjaar beplan.

Luidens die beleid is Afrikaans en Engels steeds die US se amptelike leer- en onderrigtale.

Vir voorgraadse modules waar dit redelikerwys uitvoerbaar is om meer as een klasgroep te hê, sal aparte lesings in Afrikaans én Engels by die US beskikbaar wees. Vir voorgraadse modules waar sowel Afrikaans as Engels in dieselfde klasgroep gebruik word, is die kombinasie van gefasiliteerde leergeleenthede soos volg: In elke lesing word alle inligting in ten minste Engels oorgedra, en word opsommings of beklemtoning van inhoud ook in Afrikaans voorsien.

Vrae in Afrikaans en Engels word ten minste in die taal van die vraag beantwoord.

Waar die aard van die leerstof in die module dit regverdig, byvoorbeeld as die module oor die taal self handel, sal lesings in slegs een taal aangebied word. Dit geld ook indien die dosent net vaardig is om slegs in Afrikaans of slegs in Engels onderrig te gee.

Wat leermateriaal vir voorgraadse modules betref, sal alle verpligte leesstof in Engels voorsien word, behalwe waar die module oor die taal self handel. Verpligte leesstof, buiten gepubliseerde materiaal, word ook in Afrikaans voorsien tensy dit nie redelikerwys uitvoerbaar is nie.

In nagraadse leer en onderrig kan enige taal of tale gebruik word, mits die dosent(e) en al die studente akademies vaardig is in daardie taal of tale.

Vraestelle vir toetse, eksamens en ander assesserings in voorgraadse modules is in Afrikaans en Engels beskikbaar.

Alle amptelike interne kommunikasie moet in Afrikaans, Engels en Xhosa oorgedra word. Afrikaans, Engels en Xhosa word oordeelkundig by amptelike geleenthede soos amptelike vergaderings, seremoniële geleenthede en intreeredes gebruik. Die US se tale vir eksterne kommunikasie is Afrikaans en Engels en, waar dit redelikerwys uitvoerbaar is, Xhosa.

Wat koshuise en ander leefomgewings betref word taal op so ʼn wyse gebruik dat, waar dit redelikerwys uitvoerbaar is, geen belanghebbende uitgesluit word van deelname aan enige formele aktiwiteite in hierdie omgewings nie.

Die US is juis vroeër vandeesmaand gekap nadat studente by verskeie van die US se koshuise gekla het dat hulle nie toegelaat word om met mekaar Afrikaans te praat nie.

Hier is die US se eerste konsep van sy hersiene taalbeleid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Afrikaanse universiteit, maar Afrikaans hier is taal nommer 11!

Sarel

Maar hulle sien engels as ” Inheemse” taal?

Nici

Hoe kan enige iemand welkom voel met so ‘n deurmekaar spul. Mens weet nie wat mens mag of nie mag verwag of doen nie. Dis ‘n onpraktiese gemors soos die res van die land. Daars geen salf te smeer nie, raak ontslae van die juk en begin oor.

jzjz05

As afriekaans nie n inheemse taal is nie kan hulle vir ons sê van waar die taal vandaan kom en waar het hy onstaan of het hy uit die lug geval en hier telande gekom. Dan sommer vir ons sê waar engels vandaan kom.Hulle se no1 taal

Johan

Verander die aanbiedings na slegs Afrikaans dan sien jy wat gebeur.