Eerste Kulula-vlug in maande hervat

(Foto: Comair)

Dit lyk of die gety begin draai vir die voorheen sukkelende lugdiens Comair en die eerste Kulula-vlug in maande is Dinsdag onderneem.

Die redery, wat Kulula en British Airways bedryf, is op 5 Mei in sakeredding geplaas. Die meerderheid van die aandeelhouers het verlede week ten gunste van die herstrukturering van aandeelhouding, soos voorgestel in die sakereddingsplan, gestem.

Dit het beteken die Comair Rescue Consortium kon R500 miljoen in die redery inpomp in ruil vir aandeelhouding van 99%. Tot 15% van hierdie aandele sal binne 12 maande aan ʼn geskikte swart bemagtigingsvennoot toegewys word.

Gister, vir die eerste keer in agt maande, is passasiers aan boord van Kulula-vlug MN1010 verwelkom.

“Die vlug is ʼn reusestap om Comair weer as ʼn volhoubare sakeonderneming terug op sy voete te kry,” het Richard Ferguson, een van die sakereddingspraktisyns, gesê.

“Hoewel die formele sakereddingsproses nog nie agter die rug is nie, dui ʼn Comair-vliegtuig terug in die lug op die begin van die einde van een van die ingewikkeldste hoëprofiel- korporatiewe herstrukturerings in Suid-Afrika.”

Ferguson sê dit is belangrik om in gedagte te hou dat wat by Comair gebeur het, die gevolg was van ʼn probleem wat tot die opskorting van minstens 600 lugrederye wêreldwyd gelei het.

“Om terug te wees in die lug gaan werksgeleenthede red, meer keuses en mededingendheid aan kliënte bied, die lugvaartbedryf versterk en bydra tot die breër Suid-Afrikaanse ekonomie.”

Comair se nuwe uitvoerende hoof, Glenn Orsmond, was aan boord van die vlug en sê dit was net so ʼn spesiale oomblik as toe die Kulula-handelsmerk 20 jaar gelede bekend gestel is.

Comair vlieg reeds na die meeste groot plaaslike bestemmings en nog vlugte sal in Februarie bygevoeg word.

Plaaslike vlugte van British Airways word op 9 Desember hervat.

Comair heropen aanvanklik met ʼn vloot van 15 vliegtuie vir albei handelsmerke en gaan oor die volgende sewe maande nog 10 vliegtuie in bedryf stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kokerboom ·

Uitstekende nuus. Die gratis swartbemagtigingsdryf pla steeds. Hoekom is ons so obsessief in die land met BEE terwyl die geskiedenis totale wanprestasie toon. Hoe seker is ons ook dat bevoorregte swart groepe nie net bevoordeel gaan word? Hoekom suig die gewone man op straat van ander kleurgroepe permanent aan die agterspeen?

Frederik C ·

Gaan die swart bemagtigingsvennoot die 15% aandele koop, of net kry ??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.