Heel eerste luiperd in Karoopark gewaar

Die heel eerste luiperd wat in die Karoo Nasionale Park afgeneem is. Foto: SANParke

ʼn Luiperd is vir die eerste keer in die Karoo Nasionale Park (KNP) se bestaan op kamera in dié park vasgevang.

Die kamerastrik is deel van ʼn navorsingsprojek deur prof. Jan Venter en Craig Packer van die Nelson Mandela-universiteit in Port Elizabeth.

Die fotografiese bewyse van ʼn luiperd in die park by Beaufort-Wes, wat op 18 Junie geneem is, het hulle verbaas, sê Nico van der Walt, parkbestuurder, want daar was nog nooit vantevore enige bewyse van luiperds se teenwoordigheid in die amper 40 jaar oue park nie.

Baie jare gelede het luiperds algemeen in die Nuweveldberge rondom die park voorgekom. Teen 1804 het Abraham de Klerk (1754–833), op wie se plaas Hooyvlakte die dorp Beaufort-Wes in 1818 aangelê is, nege “tiers” in die omgewing gesien.

Tot omstreeks 1950 is luiperds nog gereeld in die Nuweveldberge om die Karoo Nasionale Park gewaar, maar destyds is meer as 800 belonings betaal aan boere wat luiperds geskiet het ingevolge ’n regeringsprogram om hulle uit te wis. Foto: Morné van Rooyen

Daar was vroeër sprake dat luiperds in die KNP vrygelaat sou word, vertel Riaan Nel, senior veldwagter, maar omdat hulle selfs 2,4 m hoë wildheinings “soos bobbejane uitklouter”, is daarteen besluit ter wille van goeie buurmanskap met die omliggende skaapboere.

“Die probleem is ook ons kan nie die laeveldluiperd hier inbring nie. Dit sou die bedreigde Kaapse luiperd moes wees wat oral in die [Kaapse] berge rondloop. Ons het dit ook oorweeg om jagluiperds in te bring, maar weens die droogte is ons springbokgetalle te laag.”

Nel sê hulle kry gereeld roofdierspore in die park wat dalk dié van luiperds kan wees, maar dit lyk dieselfde as jong leeus sʼn; daarom kon hulle tot dusver nog nooit met sekerheid sê dat ʼn luiperd wel die park binnegekom het nie.

Hy vermoed die luiperd wat op 18 Junie afgeneem is, het uit die Noord-Kaap of uit die Outenikwaberge suid van die park gekom. Wat intussen van die roofdier geword het, is nie bekend nie, want vir ʼn luiperd is dit ewe maklik om uit die park te kom as om in te kom.

Luiperds kom dwarsdeur Suid-Afrika voor, net nie in die Groot-Karoo nie. Foto: Wikipedia

SANparke sê die laaste jagluiperd is sowat 25 jaar gelede in die omgewing gewaar toe ʼn motoris een langs die N1 noordoos van Beaufort-Wes gesien het.

Van der Walt sê luiperds, wat alleenlopers is behalwe tydens paartyd, het ʼn groot gebied nodig. “Dit sal interessant wees om te weet wat van dié een geword het.”

Hy vra enigeen wat ʼn luiperd in die Karoo gewaar, moet die KNP by 023 415 2828 met inligting daaroor bel.

Luiperds is teen die einde van die vorige eeu so te sê uitgewis in die Groot-Karoo, dié streek waarvan Beaufort-Wes die hoofdorp is. Maar toe Jan van Riebeeck in 1652 aan die Kaap geland het, het dié roofdiere oral in Suid-Afrika voorgekom. Die grootste konsentrasie was juis in die Karoo en ooswaarts tot in die Oos-Kaap.

Van 1947 tot 1955 is luiperds as plaag geklassifiseer en boere gedwing om hulle voor die voet van kant te maak. Eindelik is 821 belonings betaal vir luiperds wat doodgeskiet is.

Dit het gelei tot ʼn drastiese afname in luiperdgetalle in die Kaapse binneland. Deesdae kom die diere hoofsaaklik voor in die berge van die Suid- en Suidwes-Kaap, die Benede-Oranjerivier-gebied en die Nasionale Kalahari-Gemsbokpark en word pogings nou aangewend om hulle te bewaar omdat hulle ʼn belangrike rol in die ekostelsel speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andrea ·

Heng, kan nie glo hoe mense in die oudae geredeneer het nie.

Roelof ·

Ek stem saam. Mens hoor van tyd tot tyd hoe “slim” die “ou mense” was, maar ek het my bedenkinge. Dalk was hulle op ander gebiede slim, maar beslis nie as dit by die natuur gekom het nie.

Mark ·

Die berig het soppas daardie luiperd se doods vonis geteken.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.