Die eerste 1,5 miljoen dosisse entstof teen Covid-19 is reeds aangekoop en sal vir werkers in die gesondheidsektor gebruik word, het die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, Donderdag in die parlement aangekondig.
Mkhize het aan die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid gesê die Suid-Afrikaanse departement van gesondheid het reeds lankal vertroulik begin onderhandel oor verskeie entstowwe, en die eerste 1,5 miljoen dosisse is van die entstof wat in Indië ontwikkel is en reeds wyd internasionaal gebruik word.
Die eerste miljoen dosisse sal voor 31 Januarie in Suid-Afrika wees en die volgende 500 000 sal die land in Februarie bereik.
Werkers in sowel die openbare as private mediese sektor sal eerste gehelp word. Daarna sal mense ouer as 60 jaar aan die beurt kom, en dan diegene met onderliggende siektes.
Die minister het ook onthul dat onderhandelings aan die gang is met ander internasionale farmaseutiese maatskappye vir entstof om aan Suid-Afrika gelewer te word. Tans is die regering se voorkeur vir die produk van die maatskappy Johnson & Johnson, omdat dit ’n enkeldosis is (die meeste ander vereis twee afsonderlike dosisse) en goed werk.
Die Johnson & Johnson-entstof word deels deur die Suid-Afrikaanse maatskappy Aspen Pharmacare in Port Elizabeth vervaardig.