Eerste mynsterfte vir die jaar by Sibanye-Stillwater

myn staking mynhoed

Argieffoto

Dit is skaars drie weke die nuwe jaar in en Sibanye-Stillwater se Driefontein-myn in Gauteng het reeds sy eerste sterfte aangemeld. Sibanye-Stillwater se myne het verlede jaar altesaam 18 van sy werknemers aan die dood afgestaan weens mynongelukke.

Volgens Solidariteit moet inspekteurs van die departement van minerale hulpbronne en energie oorweeg om die hele myn te sluit totdat die mynmaatskappy veiligheid in hul myne kan verseker.

ʼn Mynwerker en twee reddingswerkers is in September in die Sibanye-Stillwater se Kloofmyn dood, gevolg deur drie mynwerkers in Desember by die Beatrix-myn in Welkom.

’n Slikdam by die Beatrix-myn se een skag toon glo ook swak plekke, wat kan veroorsaak dat die wal kan breek indien dit nie dringend herstel word nie.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris by Solidariteit, sê daar is drastiese ingryping nodig om mynwerkers se veiligheid te verbeter. Hy beklemtoon hoe skokkend dit is dat ’n maatskappy so min waarde aan die lewens en bestaan van hulle werknemers heg.

“Deel van die mynmaatskappy se probleem is hul arrogante en aggressiewe bestuurstyl, wat die oorsaak van die huidige loongeskil is, wat ná omtrent ses maande se onderhandelinge nog nie opgelos is nie. Die maatskappy is ook besig met ’n misleidende mediaveldtog om vakbonde van allerlei onwaarhede te beskuldig rakende hul eise. Hierdeur wil hulle skynbaar hul onvermoë verbloem om, soos die ander mynmaatskappye, skikkings met vakbonde te bereik,” sê Du Plessis.

Hy sê Sibanye verkies om agter die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie se bemiddelaars weg te kruip en nie direk van aangesig tot aangesig met vakbonde te onderhandel nie. “Dit veroorsaak bloot die verbrokkeling van verhoudinge.”

Du Plessis meen Sibanye-Stillwater se leierskap moet hul korporatiewe kultuur verander en hul vyandskap met hul eie werknemers en vakbonde beëindig.

“Op die stadium pleit die maatskappy armoede om inflasieverwante verhogings aan te bied, ten spyte van die reusebonusse wat hul senior bestuur ontvang het. Terselfdertyd word werkers en vakbonde deurlopend met afleggings gedreig. Werknemers word ook vir die onbenulligste oortredings afgedank. Dit alles skep ’n kultuur waar produksie ten alle koste nagejaag word en werkers te bang is om uit ’n onveilige werkplek te onttrek, weens die gevolge wat dit sal inhou.”

Solidariteit doen ’n beroep op Sibanye-Stillwater se topleierskap om konstruktief met vakbonde te onderhandel oor salarisverhogings en ook ernstig te besin oor hul kultuur en benadering wat tot verhoogde mynsterftes lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frank John

I wonder, what is going on with the mine group.

Willem

Ek stem Solidariteit sluit die hele Sibanye en kyk waar kry 60 000 mense werk. Ek praat dit glad nie goed nie maar wag vir ondersoek om af gehandel te word. Dis nie altyd bestuur se skuld nie. Miskien moet ons die land se paaie sluit elke keer as iemand dood is op pad, of hoe?

Jr

Ek het vir veertig jaar in ‘n myn gewerk. Die diepste in die wêreld. Dit maak my kwaad wanneer n GOEIE DOELTREFFENDE unie soos Solidariteit (ek is n lid) wat geleerde bevoegte mense het sê dat n myn moet toemaak om te VERSEKER dat werkers veilig is. NIEMAND kan of sal dit ooit kan reg kry. Dis n myn met tonne rots bo jou kop. Daar is geen support nog uitgevind wat daai tonne kan ophou in n bump. Al veiligheid wat verbeter kan word is procedure om iets te doen meer veilig. Technology to try predict FOG’s and good… Lees meer »

Jr

Only one person responsible for your safety and that’s YOU. SAFETY IS NOT A RULE, A PROCEDURE OR A REGULATION. IT IS YOUR STATE OF MIND TOWARDS SAFETY

Madz

BEGIN by die ondervinding & kennis van die top-bestuur aanstellings…..