‘Eerste oorwinning vir Transnet-pensioenarisse behaal’

Die Transnet-pensioenarisse Foto: VF Plus

Die Transnet-pensioenarisse Foto: VF Plus

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, sê hy het die eerste hekkie oorgesteek om ’n oplossing te vind om Transnet pensioenarisse wat reeds vir 11 jaar slegs ’n 2%-pensioenverhoging ontvang met regsaksie by te staan.

AfriForum het in Oktober 2012 ’n hofaansoek uitgereik waarin mnr. Gordon Thomson, ’n 90-jarige pensioenaris die hof vra om te gelas dat Transnet en Nasionale Tesourie ’n tussentydse oplossing wat deur die Parlement se portefeuljekomitee oor Openbare Ondernemings bemiddel is om die lot van die pensioenarisse te verlig, tot uitvoer te bring.

Mnr. Thomson is ’n lid van die Tweede Vaste Voordeel Pensioenfonds, maar Transnet het in sy antwoord op sy hofaansoek aangevoer dat die Transport Pensioenfonds ook as ’n party tot die aansoek gevoeg moet word alvorens die saak kan voortgaan.

’n Tussentydse hofaansoek is verlede week vir dié doel aangehoor, en die aansoek om die Transport Pensioenfonds as party te voeg is deur die Tweede Vaste Voordeel Fonds asook die Transport Pensioenfonds geopponeer. Regter S.A.M. Baqwa het egter in sy uitspraak ten gunste van mnr. Thomson beslis en gelas dat die Transport Pensioenfonds ook as ’n party tot die aansoek gevoeg moet word en dat mnr. Thomson sy hofstukke moet aanvul om voorsiening te maak vir die geding teen die Tweede Vaste Voordeel Fonds asook die Transport Pensioenfonds.

Volgens AfriForum se regsverteenwoordiger, Willie Spies, is die tafel nou gedek vir die afhandeling van mnr. Thomson se hofaansoek voor die einde van die jaar. Die aansoek loop parallel met ’n afsonderlike aansoek om ’n klas-aksie in te stel wat deur ’n ander groep pensioenarisse begin is om verligting vir die 40 000 pensioenarisse te bring. Spies het gesê die partye sal met mekaar oorleg pleeg oor hoe die twee hofaansoeke saam tot die beste voordeel van Transnet se pensioenarisse gevoer kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Liza Opperman ·

Welgedaan Afriforum, die arme mens sukkel al lank en kry maar ‘n skrale pensioen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.