Eerste op Maroela: SA Akademie kondig toekennings en bekronings vir Afrikaans aan

Martie Meiring. Foto: NB Uitgewers

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het aangekondig dat sy hoogste toekenning vir joernalistiek, die Markus Viljoen-medalje vir joernalistieke prestasie, vanjaar aan die verslaggewer en geliefde rubriekskrywer Martie Meiring van Stellenbosch toegeken word.

Dit is een van ʼn reeks toekennings wat later vandag deur die Akademie aangekondig sal word. Die Hertzogprys word vanjaar vir drama toegeken en Sondag in Rapport aangekondig, soos ook die M.T. Steynprys vir wetenskaplike en tegnologiese prestasie. Die Jan Maraisprys se wenner word later vandag bepaal, maar die res is reeds besluit.

Wat die joernalistieke toekenning betref, word Martie Meiring se rubrieke volgens die Akademie gekenmerk deur satire, snykant-waarneming en soms suiwer patos. As joernalis, rubriekskrywer en denkleier het sy ʼn beduidende invloed op die ontwikkeling van denke oor dekades heen onder Suid-Afrikaners gehad.

Die Eugène Maraisprys vir ʼn vroeë letterkundige werk word toegeken aan die Kaapse skrywer S.J. (Fanie) Naude vir sy uitdagende boek, Die derde spoel.

Die Tienie Hollowaymedalje vir kleuterliteratuur gaan vanjaar aan Jaco Jacobs vir sy boek Grom, en die Elsabe Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans word toegeken aan Kobus Geldenhuys vir Kewerknaap.

Die C.L. Engelbrechtprys vir letterkunde word toegeken aan Marlene van Niekerk van Stellenbosch vir haar werk Kaar. Wat skrywers betref wat nog op skool is, gaan die Poortprys vir poësie aan Jonathan Mark Birch van die Afrikaanse Hoër Seunskool, Pretoria, vir sy gedig nat en net na vier, en die prys vir prosa aan Imcke van Vuuren van die Hoërskool Merensky, Tzaneen, vir haar prosawerk Blou.

Jaco Jacobs (Foto: Facebook)

Drie pryse word vir die uitvoerende kunste toegeken. Christiaan Olwagen van Kaapstad wen die Delene Bekkerprys vir die beste rolprentdraaiboek in Afrikaans vir die puik Johnny is nie dood nie, oor die alternatiewe Afrikaanse beweging en die gevolge daarvan vir diegene wat dit oorleef het. Die rolprentresensent en skrywer Leon van Nierop ontvang ʼn erepenning vir die bevordering van die rolprentkuns en die wenner van die Huberte Rupertprys vir klassieke musiek is die dubbelbasspeler Peter Guy van Bloemfontein.

Op ekonomiese terrein word die Christo Wiesemedalje vir ʼn opkomende entrepreneur toegeken aan Dewald en Schalk Nolte van die sagtewaremaatskappy Entersekt.

Wat die akademiese pryse betref, word die Havengaprys vir lewenswetenskappe toegeken aan prof. Emile van Zyl van die departement mikrobiologie aan die Universiteit Stellenbosch vir sy werk oor die gebruik van omgewings­vriendelike alternatiewe vir fossielbrandstowwe.

universiteit-stellenbosch

Universiteit Stellenbosch. Foto: Facebook

Die Havengaprys vir fisiese wetenskappe word toegeken aan prof. Barend Herbst, emeritus professor in toegepaste wiskunde aan die Universiteit Stellenbosch, onder meer vir sy werk betreffende die jaarlikse wiskunde-olimpiade.

Die Stalsprys vir kommunikasiekunde en joernalistiek gaan aan prof. Herman Wasserman van die departement mediastudies aan die Universiteit van Kaapstad, veral vir sy werk oor globale joernalistiek en joernalistieke etiek.

Die Stalsprys vir sielkunde word vanjaar gewen deur prof. Linda Richter van die Universiteit van die Witwatersrand, wat ook direkteur van die departement wetenskap en tegnologie en die nasionale navorsingstigting (NRF) se sentrum vir uitnemendheid in menslike ontwikkeling is.

Die prys word toegeken vir haar lewenslange bydrae tot navorsing gefokus op veral menslike ontwikkeling en die bevordering van kinder-, adolessente en gesinsgesondheid en -welsyn in Suider-Afrika en baie ander wêrelddele.

universiteit-van -pretoria

Universiteit van Pretoria

Die C.J. Langenhovenprys vir taalwetenskap word verower deur prof. Christo van Rensburg, emeritus professor aan die Universiteit van Pretoria, spesifiek vir werk om taalvariëteite te identifiseer, op te teken en te ontleed.

Die Toon van den Heeverprys vir regswetenskap gaan aan die produktiewe navorser, prof. Leonie Stander, van die Noordwes-Universiteit.

Die Farmovs-prys vir farmakologie en geneesmiddelontwikkeling gaan aan prof. Tiaan Brink van die Noordwes-Universiteit, spesifiek vir sy bydrae tot onderrig in die farmakologie.

Die erepenning van die Akademie se fakulteit natuurwetenskap en tegnologie word vanjaar verower deur prof. Lizette Joubert, hoofnavorser van die Landbounavorsingsraad se Infruitec-Nietvoorbij-navorsingsinstituut buite Stellenbosch en buitengewone professor aan die departement voedselwetenskap, Universiteit Stellenbosch, veral vir haar navorsing oor rooibos en heuningbos.

Die wenner van die erepenning vir wetenskaplike vakbevordering in die geesteswetenskappe is prof. Ina Joubert, hoof van die departement vroeë kinderonderwys aan die Universiteit van Pretoria, spesifiek vir haar bydrae tot die onderrig van die vakrigting.

Vanjaar se Protea Boekhuisprys vir die beste geskiedenisproefskrif in Afrikaans word verower deur dr. Wynand Beukes van die Universiteit Stellenbosch vir “Van Afrikanerkultuur tot Korporatief: Die geskiedenis van Sanlam se Hoofkantoor-personeelkorps 1918‒2008”.

Die Junior Kaptein Scott-gedenkmedalje (dierkundige wetenskappe) vir die beste MSc-verhandeling gaan aan me. Lauren M. Robson van die departement Soölogie, Universiteit van Johannesburg, vir  “A histology-based fish health assessment to quantify and qualify the potential effects of the antiretroviral drug, efavirenz, on the Mozambique tilapia, Oreochromis mossambicus after acute exposure”.

Dr. Katie S. Leonard en haar medeskrywers wen die Douw Greeffprys vir die beste artikel in die Suid-Afrikaanse tydskrif vir natuurwetenkap en tegnologie vir “Hoë voorkomskoers van bakteriële vaginoses en Chlamydia in ʼn lae-inkomste-, hoë-bevolkingsdigtheid-gemeenskap in Kaapstad”.

Die Esther Greeffprys vir die beste artikel in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe word vanjaar verower deur dr. Cilliers van den Berg vir twee artikels: “Histerie en Perversie (deel I): Enkele teoretiese opmerkings oor slagofferskap binne traumadiskoerse”  en “Histerie en Perversie (deel II): Slagofferskap in Der Nazi & der Friseur (Edgar Hilsenrath) en De joodse messias (Arnon Grunberg)”.

Verskeie spesiale erepennings word ook toegeken. Die Pretoriase argitek Pieter J. Mathews ontvang ʼn erepenning vir visuele kunste (argitektuur) en die uitsaaier Johan van Lill vir sy radiobydraes, spesifiek sy hoorbeelde.

Ander erepennings gaan aan die kerkmusiekkenner prof. Albert Troskie van Port Elizabeth, die abstrakte ekspressionistiese kunstenaar Hannatjie van der Wat, die taalkundige prof. Ernst Kotze van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth en vader John Newton Johnson vir sy bevordering van die gebruik van Afrikaans in die Rooms-Katolieke Kerk. Dit sluit liedere en die vertaling van rites in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Rupert Ashford ·

Pragtig, geluk aan almal. Wonder hoeveel van hierdie wenners het enigsens iets in Afrikaans gedoen?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.