Eerste Pfizer-entstof Sondagaand hier

Die eerste besending Pfizer-entstof kom Sondagaand in SA aan. (Argieffoto: Graeme Robertson/AFP)

Die besending Pfizer-entstof – altesame 325 260 dosisse – kom Sondagaand by die OR Tambo-lughawe aan.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, sê die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestrukture, oftewel Natjoints, is verantwoordelik vir al die veiligheidsreëlings vandat die entstof by die lughawe aankom tot die vervoer daarvan daarna na die entstofsentrums.

Alle veiligheidsagentskappe is betrek om te verseker die entstof bereik die sentrums veilig.

Mkhize sê die entstof sal aanvanklik na ʼn sentrale pakhuis geneem word. Vandaar word monsters na die nasionale beheerlaboratorium vir gehalteversekering geneem en sodra dit goedgekeur word, kan verspreiding na die provinsies begin.

Volgens die minister word daar weekliks, tot die einde van die maand, dieselfde hoeveelheid dosisse in die land verwag. Teen einde Mei moet ʼn totaal van meer 1,3 miljoen dosisse die land bereik.

Van 31 Mei word aflewering verhoog tot 636 480 dosisse per week, wat beteken teen die einde van Junie moet nagenoeg 4,5 miljoen dosisse die land bereik.

Wat betref die Johnson & Johnson-entstof (J&J), sal die entstof wat in Port Elizabeth wag op verspreiding teen die middel van die maand uitgereik word.

Mkhize sê dit is weens ʼn uitgebreide proses om die veiligheid daarvan in ooreenstemming met internasionale agentskappe te bevestig.

“Dit is ʼn voorsorgmaatreël na aanleiding van die negatiewe bevindings tydens die inspeksie van die Emergent BioSolutions Bayview-fasiliteit in die VSA, een van die vervaardigingsvennote van J&J, wat die owerhede genoop het om hul assessering van alle J&J-voorraad wêreldwyd te verleng,” sê die minister.

“Ons is vol vertroue dat die finale uitslag positief sal wees en dat, indien daar geen verdere ontwrigting is nie, J&J in ʼn posisie sal wees om die voorraad van die Aspen-aanleg in Gqeberha [Port Elizabeth] teen die middel van Mei beskikbaar te maak.

“Die ondersoek is afgehandel en die voorraad gereed vir verspreiding.”

Die land se gesondheidswerkers word intussen steeds ingeënt met die oorblywende dosisse J&J-entstof – deur die Sisonke-program – terwyl die Pfizer-entstof ook gebruik gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Werner ·

Dit raak Nou n vervelige Onderwerp kry iets Anders wat Meer interisant is

Dirk Mostert ·

Soos ek tel is daar reeds meer as 60 miljoen dosisse entstof bestel. Tot nou toe is registrasie vir inenting maar traag. Die regering moes eers bepaal het hoeveel dosisse benodig gaan word, anders sit hy naderhand opgeskeep met miljarde rande se entstof. Met H1N1 het regerings ook baie meer aangeskaf as nodig. Die entstowwe word nie gratis verskaf nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.