Eerste proeflopie vir Covid-19-entstof begin in SA

Prof. Shabir Madhi. Foto: Wits

Daar sal dié week met inentings begin word in Suid-Afrika se eerste kliniese proeflopie vir ʼn entstof teen Covid-19.

Die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) het Dinsdag bekend gemaak dat die proeflopie ten doel het om ʼn entstof te vind om infeksie met SARS-CoV-2, die koronavirus wat Covid-19 veroorsaak, te voorkom.

“Dit is ʼn waterskeidingsoomblik vir Suid-Afrika en Afrika in dié stadium van die Covid-19-pandemie. Dit is winter in Suid-Afrika en die druk neem toe op hospitale en ons het nou meer as tevore ʼn entstof nodig,” het Shabir Madhi, professor by Wits en direkteur van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad se eenheid vir entstowwe, gesê.

Wits pak die proeflopie saam met die Universiteit van Oxford en die Oxford Jenner Institute in Engeland aan.

Die entstof word reeds in Brittanje op sowat 4 000 mense op die proef gestel en daar word beplan om ʼn verdere 10 000 mense te betrek. Benewens die Suid-Afrikaanse studie sal soortgelyke en verwante studies in Brasilië begin en ʼn nog groter studie van dieselfde entstof met tot 30 000 deelnemers word in die VSA beplan.

Wetenskaplikes hoop dat diegene wat met die entstof ingespuit word se liggame ʼn immuunrespons (dit wil sê teenliggaampies) sal ontwikkel wat sal help om die SARS-CoV-2-virus daarvan te weerhou om menslike selle binne te kom en Covid-19 te veroorsaak.

Volgens Wits gaan die proeflopie eers in Gauteng in stedelike metropole gedoen word waar die risiko van infeksie hoog is en wat as sogenaamde brandpunte beskou word. Die studie kan moontlik egter oor die volgende paar weke ook na die Wes-Kaap uitgebrei word.

Daar sal gepoog word om 1 950 volwasse vrywilligers tussen 18 en 65 jaar en wat MIV-negatief is by die proeflopie te betrek. Die vrywilligers kon nie al voorheen positief vir Covid-19 getoets het nie. Daar sal ook ʼn klein groep van sowat 50 vrywilligers wat MIV-positief is betrek word om die veiligheid en die wyse waarop hulle op die entstof reageer te ondersoek.

Foto: Wits

Volgens Madhi sal die navorsers vir minstens 12 maande in kontak met die deelnemers van die proeflopie bly ten einde die veiligheid van die entstof te probeer bepaal. Wanneer ʼn sekere aantal van die vrywilligers Covid-19 opgedoen het, kan daar begin word om die data te analiseer om vas te stel of die entstof werk. Volgens Madhi sal dit na verwagting teen Oktober of November se kant gebeur.

Indien daar vanjaar nog ʼn entstof gekry kan word wat werk, kan daar teen September of Oktober volgende jaar ʼn inenting vir lede van die publiek beskikbaar wees, het Madhi gesê.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Maandag bekend gemaak dat 101 590 Covid-19-gevalle nou reeds in die land aangemeld. Tot dusver het 53 444 mense van die virus herstel.

Nog 61 Covid-19-verwante sterftes is in Suid-Afrika bevestig wat die landwye totaal op 1 991 te staan bring. Altesaam 39 van die sterftes is in die Wes-Kaap aangemeld, gevolg deur 18 in die Oos-Kaap, drie in KwaZulu-Natal en een in Limpopo.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pierreli

Hou julle naalde maar vêr van my af. Klink vir my bill gates het hier ‘n vinger in die “pie”

marius

Begin sommer by die parlement . Hulle sal almal maar te gewillig wees .

JohanR

Gaan Google “German naturopath Anette Lillinger ” en lees wat sy te se het van Covid-19 entstof. As ek daai entstof moet neem dan sal ek hom in pil vorm neem, maar ‘n entstof in ‘n naald bring hulle nie naby my nie!

Delon

Nie vir my nie dankie , hierdie nuwe entstowwe klink meer soos genetiese peutering as enigiets anders

die Here het my n baie goeie imuun stelsel gegee , dit is goed genoeg vir my

ZeldA

Hopelik is ons te wit vir dit ook.