Eerste renosterhoring-NVI op veiling in SA verkoop

(Argieffoto ter illustrasie: Unsplash)

ʼn Digitale replika van ʼn renosterhoring is Donderdag in Suid-Afrika verkoop. Bewaringsgesindes wil van NVI’s gebruik maak om geld te bekom sodat werklike renosters beskerm kan word.

Die Kaapstadse sakeman Charl Jacobs het R105 000 betaal vir die digitale horing. Hy beplan om dit in ʼn trust te plaas vir sy kinders.

“As die ergste gebeur, en renosters uitsterf, dan sal ek steeds ʼn renosterhoring besit, van ʼn NVI is ʼn bewys van die fisiese renosterhoring,” het hy aan AFP gesê.

Die opbrengs uit die verkope gaan na die privaat Black Rock Rhino-bewaringsentrum, ʼn tuiste vir 200 renosters wat kan aanteel terwyl hulle teen stropers beskerm word.

“Ons verdubbel ons bevolking elke vier jaar. Dis ʼn baie belangrike bewaringsprojek,” sê bewaringsgesinde Derek Lewitton. “Dit kos egter ʼn fortuin. As mens jou teen stropers wil beskerm, dan moet jy baie geld opdok vir mannekrag en sekuriteit-infrastruktuur. NVI’s is ʼn manier vir ons om dit te finansier.”

ʼn Nieverwisselbare item (NVI) (Engels: non-fungible token – NFT) is ʼn spesiale soort kriptografiese item of bewys wat iets unieks voorstel. Nieverwisselbare items is dus nie onderling uitruilbaar nie. Dit is in teenstelling met kripto-geldeenhede soos bitcoin, en baie netwerk- of hulpbronbewyse wat vervangbaar van aard is.

NVI’s is in effek digitale bates met ʼn egtheidsertifikaat. Alhoewel sommige verward sou wees oor die idee dat jy iets aankoop wat oneindig gereproduseer kan word, is daar tans ʼn groot aptyt vir NVI’s in markte wêreldwyd omdat kopers graag wil spog dat hulle oor die gesertifiseerde oorspronklike item beskik.

NVI’s is dus ideaal vir kunsversamelaars wat miljoene dollar spandeer aan digitale tekeninge, musiek en video’s. Maroela Media het vroeër berig oor ʼn foto en ʼn video wat deur middel van ʼn NVI verkoop is.

Die NVI-tegnologie stel ʼn begunstigde ook in staat om kommissie te ontvang van toekomstige verkope. Indien Jacobs dus sy NVI in die toekoms verkoop, sal Black Rock Rhino weer ʼn deel van die opbrengs ontvang.

Dit is wettig om renosterhorings in Suid-Afrika te verkoop, maar in dié geval sal die oorspronklike horing in ʼn kluis weggebêre bly. Stropers het tydens die eerste ses maande van die jaar reeds 249 renosters in Suid-Afrika doodgemaak. Dit is 83 meer as die eerste helfte van 2020. Die diere word doodgemaak vir hul horings wat na Asië gesmokkel word en dan vir tradisionele en medisinale doeleindes aangewend word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank John ·

Ek sal so bly wees as dit die stoppers kan stop of dan ten minste verminder.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.