Eerste somerreën op pad

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Reën en donderbuie wat lafenis sal bied vir talle gebiede wat tans versengende hitte beleef, word vandeesweek in groot dele van die land verwag.

Volgens Vanetia Phakula, ʼn weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), kan dele van Gauteng, Noordwes en die Vrystaat teen Donderdag matige reën en donderbuie verwag, terwyl gebiede langs die kus tot die naweek swaar reën te wagte kan wees.

“Reën sal oor meeste dele van die land vir net ʼn paar dae duur, maar die moontlikheid bestaan dat dit eers teen einde volgende week sal opklaar,” sê Phakula.

“Die binneland het na verwagting tot Vrydag sowat 30% kans op reën. Die naweek gaan egter swaarder reën in Gauteng oplewer met ʼn 60% kans op reën.”

Temperature in dié provinsie sal na verwagting tot in die lae 20’s daal.

Johannesburg sal Donderdag koel wees met temperature tussen 12 °C en 22 °C, terwyl Bronkhorstspruit koeler temperature kan verwag wat deur die loop van die naweek weer sal begin styg.

Pretoria sal van Donderdag vir die res van die week minimum temperature van tussen 12 °C en 14 °C en maksimum temperature van tussen 25 °C en 28 °C hê.

“Sommige gebiede gaan nie soveel koeler word nie, omdat die donderbuie eers laat in die middag begin wanneer maksimum temperature reeds bereik is.”

Reën in die binneland sal na verwagting tot volgende week duur, waarna temperature stelselmatig weer tot in die hoë 20’s sal styg.

Volgens Phakula bestaan die moontlikheid dat Limpopo en Mpumalanga ook matige reën en donderbuie kan kry.

Reën aan die kus

Dele van KwaZulu-Natal sal vir die res van die week koel tot koud wees met swaar reën wat glo teen einde volgende week sal opklaar.

“Die provinsie sal vir meeste van die week bewolk wees, met ʼn 60% kans op reën,” het sy gesê.

Durban sal na verwagting minimum temperature van 15 °C oplewer en maksimum temperature van tussen 18 °C en 22 °C.

Gebiede in die Oos-Kaap, wat sedert die naweek koeler weer ondervind het, se reënval sal teen die naweek opklaar, terwyl daar geen reën in die Wes-Kaap voorspel word nie.

“Teen die naweek sal die reën meestal na die ooste van die Oos-Kaap beweeg en later opklaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Christo ·

Nattigheid sal nou oor ‘n wye area in ons land verwelkom word!

Hendrik Marthinus ·

Ons voorvaders het die Oos Kaap se damme met sambrele oor gebou
Dit reen maar die damme Bly leeg, maar die verskoning Bly dit reen nie by die damme nie.
Bel jy iemand in die omgewing vertel hy jou dit reen lekker, so gevolglik lyk dit my die Kouga Dam het n sambreel oor

Samuel ·

Ek kry die Oos-Kapenaars baie jammer. Soos baie van hulle sê, dit reën op TV, maar nie by hulle nie. Mag die liewe Vader vir hulle reën stuur.

Di ·

Dit sal wonderlik wees, miskien sal al die brande wat so “ontstaan” ook dalk op ‘n einde kom na die eerste reen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.