Eerste sterfte met entstof verbind

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) het Donderdag bevestig dat die entstof teen Covid-19 ʼn pasiënt se dood veroorsaak het. Dié pasiënt is met Guillain-Barré-sindroom gediagnoseer nadat hy of sy Johnson & Johnson se entstof teen die koronavirus ontvang het.

Dit is die eerste sterfte waarvan die oorsaak direk met die entstof verbind kan word. Meer as 37 miljoen entstofdosisse waaronder nege miljoen dosisse van Johnson & Johnson se entstof is in dié stadium reeds in Suid-Afrika toegedien.

Sahpra hou vol die voordele verbonde aan die Covid-19-entstof weeg veel swaarder as die risiko daaraan verbonde.

Prof. Hannelie Meyer, voorsitter van die nasionale immunisasieveiligheidskomitee, het vanoggend tydens ’n virtuele mediakonferensie gesê die betrokke pasiënt het kort ná inenting simptome van Guillain-Barré-sindroom begin toon.

Dié seldsame sindroom vernietig die beskermende skede (miëlien) om die aksone van ʼn pasiënt se senuweeselliggame (neurone).  Die neurone kan dan nie meer boodskappe van die brein na die ledemate gelei nie en verlamming volg. Die verlamming begin by die buitenste ledemate, soos tone, vingers, voete en hande en beweeg dan na binne. Pasiënte se asemhalingspiere word ook aangetas en pasiënte kan later nie meer self asemhaal nie.

Die pasiënt is in die hospitaal opgeneem en later aan ’n ventilator gekoppel voordat hy of sy eindelik dood is.

Meyer sê hoewel baie ander gesondheidsprobleme soos infeksie ʼn rol kon speel, daar geen ander oorsaak as die entstof in dié geval vasgestel word nie.

Maroela Media het vroeër berig oor ʼn vrou van Noordwes, Jean van Vuuren, wat in Junie in ʼn Pretoriase hospitaal dood is nadat die Guillain-Barré-sindroom sowat tien maande vantevore ná inenting by haar gediagnoseer is.

Dit is egter nie duidelik of Van Vuuren die betrokke pasiënt is wie se sterfte Sahpra met die entstof verbind nie aangesien Meyer geen besonderhede rakende die pasiënt Donderdag wou bekend maak nie.

Seldsaam’

(Argieffoto: Maroela Media)

Marc Blockman, kliniese farmakoloog verbonde aan die Universiteit van Kaapstad en die Groote Schuur-hospitaal, het vanoggend daarop gewys dat Guillain-Barré – ʼn  sindroom gekenmerk deur die vinnige en progressiewe verswakking van die pasiënt – slegs by 100 000 pasiënte regoor die wêreld per jaar gediagnoseer word.

Blockman gee toe dat Guillain-Barré-sindroom in uiterste gevalle met medikasies en entstowwe verbind word. “Ons is egter oortuig daarvan dat die voordele van die entstof baie swaarder weeg as die seldsame risiko van Guillain-Barré-sindroom.”

Helen Rees, raadsvoorsitter van Sahpra, beaam dié siening.

“Die entstof teen Covid-19 bied beskerming teen ernstige siekte en sterftes. Die risiko’s verbonde aan Covid-19 is steeds wesenlik – selfs wat die Omikron-variant betref – en ons weet nie wat die volgende variant gaan wees nie.

Bitter min mense is tydens die vorige vlaag aan die Omikron-variant dood of selfs in die hospitaal opgeneem.

Nietemin moedig Saphra die publiek aan om ingeënt te word én die aanvullingsdosis (“booster”) te ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.