Eerste struikelblok in ondersoek na staatskaping

Voorblad van die staatskaping-verslag wat op 2 November 2016 bekend gemaak is

Die ondersoek na bewerings van staatskaping deur die parlement se portefeuljekomitee oor openbare ondernemings het Woensdag sy eerste struikelblok teëgekom.

Dit nadat daar aan die lede bevestig is dat die wetgewer nie sal betaal om ʼn onafhanklike getuieleier aan te stel nie.

Zukiswa Rantho, waarnemende voorsitter, het aan LP’s gesê sy het die huisvoorsitter, Cedric Frolick, versoek om ʼn getuieleier aan te stel vir dié ondersoek wat nie net bewerings van staatskaping by Eskom sal ondersoek nie, maar ook staatskaping by Transnet en Denel.

Parlementêre regsadviseurs het daarna ʼn voorlegging gemaak waarin hulle aangevoer het dat ʼn presedent geskep sal word indien die taak van getuieleier uitgekontrakteer word en dat die instansie dit nie kan bekostig nie.

Verskeie LP’s het hierdie argument as nonsens afgemaak en bevraagteken of die teësinnigheid om ʼn professionele persoon van buite die parlement aan te stel beteken dat daar ʼn opdrag gegee is dat die ondersoek van die begin af ondermyn moet word. “Ek moet my absolute ontsteltenis uitspreek oor die parlement se versuim om die nodige hulpbronne vir hierdie doelwit te voorsien,” het ANC-LP Zukile Luyenga gesê.

Hy het bygevoeg dit is vreemd dat dieselfde regering wat op grootskaal geplunder word versuim om ʼn ondersoek te ondersteun wat ontwerp is om die misbruik van sy hulpbronne te verhoed. Die bewerings van korrupsie by staatsinstansies is so ernstig dat geld vir ʼn behoorlike ondersoek gevind moet word, “selfs al moet ons ons skoene verkoop”, het hy gesê.

ANC-LP Mondli Gungubele het gesê die argument dat ʼn presedent geskep sal word, is onwaar, aangesien dit van toepassing is op howe en nie op die parlement nie.

Narend Singh van die IVP het gevra of die komitee alreeds inmenging deur die magte in beheer sien nog voordat hulle met hul werk kon begin.

Die komiteelede het ook versoek dat adv. Nthuthuzelo Vanara, ʼn senior parlementêre regsadviseur wat getuieleier vir die SAUK ad hoc-komitee was, ook die staatskapingondersoek lei. Frolick het egter gesê dit sal nie moontlik wees nie omdat Vanara te veel werk het in sy nuwe rol as registrateur van ledebelange.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.