Eerste vrouemoderator van Algemene Sinode sterf

Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel (Foto: US)

Die Universiteit Stellenbosch (US) is in rou gedompel nadat een van sy professors, Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel, Dinsdag weens komplikasies ná ’n onlangse operasie oorlede is.

Plaatjies-Van Huffel was ’n professor in ekklesiologie aan die Fakulteit Teologie.

Volgens prof. Reggie Nel, dekaan van dié fakulteit, was Plaatjies-Van Huffel nie net die eerste vrou wat georden is in die voormalige Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk nie, maar is sy ook later verkies as die eerste vrouemoderator van die Algemene Sinode van dié kerk.

Plaatjies-Van Huffel was ook die eerste swart vrou wat tot hoogleraar aan die Fakulteit Teologie van die US bevorder is. Dié prestasie sou later vanjaar tydens haar intreerede as professor in ekklesiologie erken word.

“Sy was ’n kampvegter vir sake soos swart teologie, vroueregte en transformasie en het die kerk en Afrika op talle terreine verteenwoordig, onder meer in die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke en die Wêreldraad van Kerke. Sy was ook ’n passievolle kerkhistorikus, kerkregkenner en pedagoog,” sê Nel.

Nel het bygevoeg dat hoewel Plaatjies-Van Huffel nie lank aan die US se Fakulteit Teologie verbonde was nie, sy steeds ’n “onuitwisbare” indruk op haar vakgebied en in die harte en gedagtes van haar kollegas en studente gemaak het.

“Ons bring hulde aan haar merkwaardige talente, prestasies en bydraes, maar ons onthou haar veral vir haar onwrikbare moed, haar lieflike persoonlikheid en haar groot hart.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Piet parys

Ek het nie geweet dat Teologie swart of wit is nie . Waarmee sal daar nog in kleur uitkom .

donsie

sy lyk nie juis vir my swart nie, is daar dan ‘n verskil in hoe mense glo as hulle aan verskillende bevolkingsgroepe behoort