Eeueoue plaashuis erg beskadig ná Struisbaai-storm

Die familie woon sedert 1817 op die plaas. (Foto: Verskaf)

’n Eeueoue Kaaps-Hollandse huis op die familieplaas Zoetendals Vallei in Struisbaai is erg beskadig nadat ’n reusestorm die kusdorp Woensdag getref het.

Volgens Michael van Breda, die eienaar, is die huis reeds in 1773 gebou. Die familie woon sedert 1817 op die plaas.

“Die haelstorm het bykans 30 vensters uitgeslaan en water wat die huis binnegestroom het, het groot skade aan die houtvloere, tapyte, skilderye en ander oudhede aangerig. Ons weet nie of ons alles sal kan red nie,” sê Van Breda.

Volgens hom is daar ook groot skade op die plaas, waar Van Breda onder meer met vee en graan boer, aangerig.

“Dele van die plaas was ná die storm kniediep onder water.”

Van Breda se vrou, Melissa, sê hulle kon nog nie die volle omvang van die skade bepaal nie. Dit sal eers gedoen kan word wanneer die watervlakke op die plaas daal.

“Ons eerste prioriteit was om ons diere na veiligheid te neem. Dit was ’n uitdaging gegewe al die water, maar ons is dankbaar dat ons geen vee verloor het nie.”

Hoewel hulle moes spook om hul eie skade te beperk, het die Van Breda’s ook hande gevat om die gemeenskap ná die storm by te staan.

“Hoewel daar grootskaalse skade aan ons plaas en huis aangerig is, is ons deeglik bewus dat talle mense in die gemeenskap erg geraak is,” sê Melissa.

Die gesin het in samewerking met werknemers op die plaas kos aan verskeie gesinne in die omgewing versprei en sal vandag daarmee voortgaan.

“Ons het ook sandsakke aangery om vloedwater te keer en mense gehelp om meubels na ’n veilige gebou te vervoer,” sê Melissa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andrew ·

Die famielie bly in daai huis al sedered 1817. Ek daag die EFF uit om een grafsteen ouer as dit met die van Malema, Shivambu op enige plek in SA uit te wys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.