Eeuoue Afrikaanse boeke vind tuiste by Voortrekkermonument

Marianne Hennig, assistent by die Erfenisstigting se biblioteek, pak die stel boeke uit wat deur die Onderwysmuseum aan die stigting geskenk is. (Foto: Verskaf)

Die Erfenisstigting, by die Voortrekkermonument, is die trotse eienaar van ’n nuwe stel boeke, waarvan een meer as ’n eeu oud is.

Dié boeke, Leesboek voor Zuid-Afrika, is onlangs deur die Onderwysmuseum aan die Erfenisstigting geskenk. Hubertus Elffers is die skrywer van die stel boeke, wat in 1899 uitgegee is.

Dit word by dié stigting se biblioteek onder die Erfenissentrum uitgestal en lede van die publiek kan nou deur dié skatkis kom blaai.

Die biblioteek is in 2004 by die Erfenissentrum op die Voortrekkermonumentterrein geopen.

Meer as 2 000 boeke word in dié kultuurargief gehuisves en as jy mooi luister, kan jy die eggo van die Afrikanergeskiedenis hoor wanneer jy tussen die boekrakke loop.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Erfenisstigting, sê die biblioteek bevat hoofsaaklik leesstof oor die kuns, taal, geskiedenis en politiek van die Afrikaner.

“As jy wil lees oor die Groot Trek, Anglo-Boereoorlog, die Slag van Bloedrivier en nog vele ander geskiedkundige gebeurtenisse oor die Afrikanervolk, is daar min plekke wat jy kan besoek wat meer hieroor beskik as die Erfenisstigting se biblioteek.

“Ons het gesien hoe ’n verwoestende brand in die Wes-Kaap onlangs die hele biblioteek in as by die Universiteit van Kaapstad gelaat het. Dit is hoekom dit so belangrik vir ons is om ons kultuurgeskiedenis by dié biblioteek te beskerm en te bewaar.”

Die biblioteek is oop vir lede van die publiek van Maandag tot Vrydag, 09:00 tot 15:00. Skenkings van boeke word verwelkom, maar mense word versoek om ’n lys van die boeke te stuur sodat dit behoorlik bewaar kan word.

Dié boeke, Leesboek voor Zuid-Afrika, is onlangs deur die Onderwysmuseum aan die Erfenisstigting geskenk. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

groenboer ·

Ek wonder of daar enige ander taal op aarde is met enige woord wat soveel klinkers na mekaar het as “eeueoue”.

groenboer ·

Selfs ‘n Pool sal sukkel om “Bronkhorstspruit” uit te spreek. :-)

Anel ·

Ek het ‘n kopie van die laaste boek wat Mikro geskryf het. Hy het dit nooit klaar geskryf nie maar iemand anders het. Ek het nou vergeet wie. Sal eers weer in my boekrak moet gaan kyk, en wanneer die boek uitgereik is. Baie kosbaar vir my. Ek lief boeke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.