EFF-aansoek om tugproses te keer verwerp

Julius Malema, leier van die EFF, op 21 Augustus 2014 buite die Nasionale Vergadering Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Julius Malema, leier van die EFF, op 21 Augustus 2014 buite die Nasionale Vergadering Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het Maandag die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) se aansoek om ʼn dringende interdik om die parlement te verhoed om tugstappe teen 20 van die party se LP’s te doen, van die hand gewys.

Adv. John van der Berg, namens die EFF, het aangevoer dat die aansoek te doen het met die grondwetlike beginsel van parlemente privilegie wat LP’s die reg gee om die uitvoerende gesag tot verantwoording te roep.

Die EFF se LP’s is veronderstel om Dinsdag voor die parlement se komitee oor regte en voorregte te verskyn op aanklagte wat verband hou met hulle uitjouery van president Jacob Zuma. Van den Berg het toegegee dat hy meer inligting benodig oor die komitee. Hy het wel gesê hy vermoed dat die komitee ʼn meerderheid ANC-lede sal hê en aanklagte sal hoor wat deur ʼn speaker van dieselfde party verwys is.

“Indien ek nie weet wie die komitee is nie, hoe kan daar van my verwag word om te bevind dat hulle bevooroordeeld gaan wees?” het regter Vincent Saldanha gevra voor hy die saak van die rol geskrap het. Die hof is kort voor Saldanha se uitspraak meegedeel dat die parlement besluit het om die dissiplinêre verhore met ʼn week uit te stel.

EFF-LP’s het verlede maand chaos in die Nasionale Vergadering veroorsaak terwyl Zuma besig was om vrae te antwoord oor Nkandla. Die party se LP’s het “betaal die geld terug” begin dreunsing.

Die EFF se LP’s kan vir tot 14 dae geskors word indien hulle skuldig bevind word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.