EFF-advertensie nie bedoel “om mense bang te maak” nie

Die advertensie

Die advertensie

‘n Eiendomsmaatskappy sê sy advertensie wat verwys na Julius Malema en die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) was nie bedoel om mense die skrik op die lyf te jaag nie maar eerder die spot te dryf met mense wat bang is vir die “swart gevaar”.

“Die rede vir die advertensie was om die spot te dryf met mense wat bang is vir die ‘swart gevaar’ en Julius Malema,” het Anton du Plessis, uitvoerende hoof van Vineyards Estates, gesê.

Du Plessis sê baie mense wat in die areas woon waar Vineyards Estates sake doen, dink die land sal agteruitgaan met iemand soos Malema in die parlement. Vineyards Estates doen sake in Bishop’s Court, Newlands, Claremont, Kenilworth, Wynberg en Rondebosch in Kaapstad.

“Die advertensie sinspeel daarop dat indien jy daaraan dink om weg te gaan, skakel my en ek sal jou huis verkoop,” sê Du Plessis. Die advertensie het Sondag in die Sunday Times verskyn.

Die advertensie is ‘n foto van vyf mans en vroue in rooi oorpakke en rooi berets. Een van die vroue is soos ‘n skoonmaker aangetrek. Du Plessis sê die mense in die foto is hy en sy personeel. Volgens ‘n onderskrif by die foto is Du Plessis die “hoofbevelvoerder”, die titel wat Malema ook aan homself toegeken het.

Aan die bokant van die foto staan “Emigreer?”. Dit lees verder: “If you can’t see yourself embracing change as we at Vineyards Estates have, you may be needing to sell or let your home now, or perhaps in just under five years time… Whatever the timing, speak to the Boutique Southern Suburbs Property Specialists… Vineyards Estates.”

Du Plessis sê hy het talle oproepe ontvang van mense wat vol lof was vir die advertensie. “My foon het nie opgehou lui nie…Ek het een klagte ontvang.” Du Plessis sê hy was self senuweeagtig toe hy die eerste keer gehoor het Malema gaan parlement toe.

“Die oomblik toe ek gehoor het Julius Malema gaan parlement toe, het ek gedink die land gaan na die honde toe waarna ek verder daaroor gedink het. Indien ons in hierdie land gaan bly, moet ons besef dat die reuse gaping tussen ryk en arm aangepas moet word…ons moet dit omhels,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Theresa ·

Julle kan gerus beter idees gebruik vir julle advertensies. Gebruik net bietjie die orgaan tussen julle ore.

Sollie ·

Ag wat Malema sal my beslis nie uit die land jaag nie. Ek is lief vir my land en sal hier BLY! Ek dink ook dis nogals ‘n oorspronklike advertensie, maar natuurlik, soos met alles, sal almal nie met jou saamstem nie. Smaak verskil en gelukkig tog ook anders het almal altyd dieselfde aangetrek, hare sou dieselfde gekam word, almal sou dieselfde karre gery, ens ens, – dink net hoe vervelig sou DIT wees. So – vir my pla dit glad nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.