EFF beplan om banke, Investec en Rupert te ontwrig

Leiers van die EFF (Desember 2019) (Foto: EFF/Twitter)

Vanjaar lyk na ʼn jaar van konflik, ontwrigting en partypolitieke isolasie vir die EFF.

Dit nadat die party se nasionale en provinsiale leierskap tydens hul pas afgelope vyf dag lange jaarbeplanning politieke oorlog verklaar het teen die groeiende aantal Suid-Afrikaners en Suid-Afrikaanse groepe wat deur die EFF as vyande beskou word.

Die EFF beplan ʼn hele spul ontwrigtende massa-protesaksies. Voorbeelde daarvan sluit gereelde besettings en dus ontwrigting van die openbare takke van handelsbanke in. Die EFF meen die banke se beleid (veral oor die toestaan van lenings en die sluit van rekeninge) bevoordeel kapitalisme en spesifiek wat die EFF beskou as wit monopoliekapitaal.

Periodieke massa-opmarse deur die EFF na byvoorbeeld die maatskappy Investec, asook die eiendomme van die sakeman Johann Rupert, die OR Tambo-lughawe (uit protes teen die doeanepos in ʼn terminaal wat aan die Oppenheimer-familie behoort) en Eskom (uit protes teen wat die EFF as privatiseringsplanne bestempel) word beoog.

Daar is ʼn al groter wordende aantal mediagroepe met wie die EFF weier om te assosieer of enige kontak te hê. Tans sluit dit Daily Maverick en die ondersoekende joernaliste van amaBhungane en Scorpio in.

Maar die mediagroep wat volgens die EFF benewens hierdie sanksies nog erger is as dié genoemde groepe is eNCA, wat volgens die EFF so sleg is as wat die Gupta-televisiekanaal ANN7 was – en dus op dieselfde wyse deur die EFF verwerp word.

Wat twee van die bepalendste politieke kwessies wat Suid-Afrika tans voor hand lê betref, het die EFF potensieel belangrike besluite geneem: oor onteiening sonder vergoeding en die nasionale gesondheidsversekering.

Julius Malema (Desember 2019) (Foto: EFF/Twitter)

Wat onteiening sonder vergoeding betref het die EFF-leiers besluit hulle sal slegs stem vir ʼn grondwetlike wysiging wat presies aan EFF-beleid voldoen, naamlik dat alle grond wat die EFF as “produktiewe” grond beskou spoedeisend onteien word sonder vergoeding en oorgedra word na die staat, wat dit bestuur namens die bevolking. Dit sou landbougrond en fabrieksgrond insluit, maar nie private wooneenhede of woonerwe nie (al styg huispryse, so die logika ontsnap baie waarnemers).

Kragtens die EFF-beleidsvoorstel sal die staat dan aan die hand van aansoeke deur die publiek moet besluit wie watter ekonomiese aktiwiteit op daardie “produktiewe” grond mag verrig vir ʼn vasgestelde tydperk van 25 jaar, waarna die proses van aansoek doen homself herhaal.

Geen ander politieke party met meer as twee parlementsetels het hoegenaamd ʼn beleid wat naastenby met die EFF-beleid ooreenkom of versoenbaar is nie. Omdat ʼn tweederde meerderheid in die parlement nodig is vir enige grondwetlike wysiging om te slaag, moet die ANC die steun van een of albei van die twee groot opposisiepartye (die DA en/of die EFF) hê om die Grondwet te wysig.

Die EFF se onbuigsame standpunt trek (tensy die ANC of EFF skielik hul beleid totaal wysig) in praktyk ʼn streep deur enige ANC/EFF-eenstemmigheid oor die bewoording en inhoud van ʼn grondwetlike wysiging. Soos dinge staan is die DA teen enige verandering in die Grondwet, so dis skaakmat vir die ANC.

Die waarskynlikste afloop van die hele langdurige, ekonomies riskante en soms bitter proses is dus dat art. 25 van die Grondwet (die eiendomsklousule) nie gaan verander nie, tensy die ANC se voorstel so matig en oppervlakkig is dat die DA (en die VF Plus, want die DA kan Realpolitik-gesproke nie bekostig om ʼn ANC-voorstel oor onteiening te steun tensy die VF Plus dit ook doen nie) bereid is om die grondwetwysiging te steun.

Waar die EFF-leierskap groter duidelikheid gebring het oor waar hulle staan oor onteiening, is hul posisie nou minder duidelik oor die nasionale gesondheidsversekering.

EFF-volksvergadering (Desember 2019) (Foto: EFF/Twitter)

In die konsep-beleidsdokumente vir die EFF-kongres in Desember het die EFF wel die konsep en ideaal van die nasionale gesondheidsversekering gesteun, maar nie die ANC se voorstelle vir die praktiese implementering daarvan in Suid-Afrika nie.

Die EFF-konsepbeleid is dus teen die model van en wetgewing oor nasionale gesondheidsversekering soos tans voor die parlement omdat die EFF meen die ANC-regering het nie die kundigheid, bestuursvermoë of geld om dit suksesvol te implementeer nie, soos blyk uit die afgryslike omstandighede in die meeste staatshospitale en -klinieke buite die Wes-Kaap.

Dit beteken hoewel die EFF ideologies met die DA, IVP, VF Plus, Cope en ACDP oor die kwessie verskil, is hulle dit eens met hierdie partye in die praktyk, wat ʼn magtige en potensieel suksesvolle knyptang teen die ANC op parlementêre, politieke en uiteindelik juridiese vlak kan beteken.

Die EFF-beleid is egter geskryf deur die EFF-LP en mediese dokter dr. Suzan Thembakwayo, wat tot dusver die party se woordvoerder en beleidsleier oor gesondheid was. In die skommeling van die EFF-LP’s se parlementêre portefeuljes is Thembakwayo geskuif na basiese onderwys.

Hoewel die EFF-leier, Julius Malema, persoonlik bogenoemde EFF-konsepstandpunt sterk in die openbaar onderskryf het, het die EFF byna twee maande ná sy beleidskongres nog nie die finale besluit oor die nasionale gesondheidsversekering bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Magda ·

Sien GOED VIR NIKS PARTY – Kan net ontwrig en alles vernietig – Hulle moet ontbind word as Politieke Party .

Kiewiet ·

Magda, Jy slaan die spyker op sy kop. Wys my enigiets goed wat die eff al ooit gedoen het. Hulle moet verban en ontbind word as n politieke party. Hulle sogenaamde leiers moet dringend vervolg word aan die aanklagtes teen hulle. Wat is fout met die regstelsel en die nvg, hulle is vas aan die slaap en soek net brownie punte in hulle eie belang. Die mosie van wantroue in ons prez, moet ook onder steun word, hy praat net en niks gebeur nie.

Nie Verbaas ·

Al wat mens eintlik kan se is “shame” Ek dank die Here dat ek nie so onnosel is nie. EFF het nie die insig om te weet hoe belaglik hulle is nie.

Fluisterwind ·

Verander eerder die grondwet om politieke partye wat ontwrigtend tot die vooruitgang van die land is te ontbind. WEG met EFF!

Philip ·

Banke moet maar reageer en die EFF ontwrig deur hul rekeninge te vries/ sluit.

Porseleintjie ·

Watter houvas het EFF se leier op die regering wat meebring dat hy onaantasbaar is? Hoe is dit dat n student tot verantwoording geroep kan word vir die protesoptogte maar n groot, uitgevrete volwassene kom weg met die spreekwoordelike moord? Hy maak en breek, ontwrig en saai net verwoesting. Dalk is dit tyd dat daar dieper gedelf word in ou Julius. Daar is meer as wat op die oog af gesien kan word.

marius ·

Sy heersers se beplanning werk goed uit . Veroorsaak ghaos , dan kan ons onbeheersd verder plunder . Dis die waarheid .

Stefan ·

Hulle het mos gesè hulle gaan die land onregeerbaar maak.
By watter bank is hul eie rekening?
Mens kry dom mense wat besef hulle is nie van die slimstes nie, met hulle kan mens saamleef.
Maar mens kry ook dom mense wat te dom is om te weet hulle is dom, en dis baie erg vir almal om hulle.

henndrik ·

Ek het nie ‘n probleem met hulle aksies nie, wat ek wel sal wil sien gebeur is dat hulle persoonlik verantwoordelik gehou moet word vir enige verliese wat enige besigheid lei tydens so ‘n aksie.

Gerhard ·

Wat skrikwekkend is , dis ons 3de grootste politieke groep in ons land … dis eintlik ondenkbaar maar ons realiteit … daars niks omtrent dit wat enigsins goed inhou nie .

Wondermaarnet ·

Ontwrig julself en verwyder julself uit die samelewing. Die Bybel sê jy moet jou naaste liefhê, maar hoe?

Kiewiet ·

Liewe Wondermaarnet, Nie almal in die wereld is jou naaste nie. Jou naastes is jou gesin, jou familie, jou broers en susters in Chrustus, die mense wat jou lewens wyse daagliks ondersteun en laat groei. Ek sien dit nie in die meerderheid nie. So die wat nie aan die Christelike norms voldoen nie is nie jou naastes nie. God self het die Isrealite se vyande uitgewis.

ElizeK ·

Wonder wanneer voer hulle dreigemente teenoor Amerikaners uit. Wens met my hele hart hulle wil, maar van daai goot pratery SAL daar niks van kom nie. Ook maar lekker bang nê. Whahaha, ek lag vir jou wat lei aan klein mannetjie sindroom.

Jakes ·

Die EFF se belaglike redenasie en optrede spreek van totale onkunde oor wat die gevolge van hul optredes vir die land en sy veiligheid kan inhou. Malema se intelligensievlakke is nie bevorderlik vir n gesonde samelewing nie en wat die situasie nog meer ongeloofwaardig maak is dat Malema en kie meesters is op die gebied van mense opsweep.

Strandloper ·

Nou toe nou “mal”ematjie….imagine as almal normaal was hoe boring die lewe sou wees….

Jdb ·

Jan-Jan, jou artikel is interessant, maar totaal akademies van aard. Hoewel jou redenasies uiters sinvol is, weet ons almal dat nie die ANC of die EFF die verstandelike vermoë en insig het om op dieselfde manier te redeneer nie. Hulle sal dus maar net weer onverklaarbaar irrasionele besluite neem wat op selfverryking en kader-bevoordeling neerkom.

Louis ·

Kla hulle aan vir intimidasie en sorg dat daar vroegtydig ‘n interdik teen hulle verkry word. Sonder ‘n wettige interdik sal ons moet vat wat kom, sonder dat daar iets aan hulle gedoen kan word.

RyanSA ·

Ek beloof om op die kante van die veld te sit en net te kyk, geen nasiebou of enigiets, terwyl die eff bestaan nie..

Johan ·

Ek wil net graag weet, wat het van die sake geword teen Julias met die dat hy SARS so baie geld geskuld het. Volgens my moes hy lankal toegesluit gewees het

Jannie van Niekerk ·

Dis vir my interessant dat die EFF nie die Media Maatskappye wat WEL aandag aan hulle gee, boikot nie. Indien die Media die Mal onderkorporaal en sy ewe onnosel trawnate ignoreer, wil ek nie sien hoe hy DAN tekere sal gaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.