EFF beywer hom vir terugkeer na vlak 5-afsondering  

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die EFF het ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om die land weer op ʼn vlak 5-afsonderingstydperk te plaas.

Die party is van mening dat die land vir nog drie maande op ʼn vlak 5-afsonderingstydperk moet wees gegewe die styging in Covid-19-infeksies en verwante sterftes. “Die feit is dat nie private of openbare gesondheidsorgstelsels tans voorsiening sal kan maak vir die stygende aantal positiewe Covid-19-gevalle nie.”

Dit sal volgens die EFF tot gevolg hê dat duisende mense gaan sterf aangesien hulle nie toegang tot gesondheidsorg sal kan kry nie. “Ons demokratiese regering het die verantwoordelikheid om op te tree in belang van die belangrikste reg tot lewe. Geen ander reg is verhewe bo die reg om te lewe nie. As ons nie kan lewe nie, kan ons geen ander basiese menseregte geniet nie.”

Daar moet volgens die party verskeie stappe gedoen word ten einde ʼn vlak 5-afsonderingstydperk vir drie maande te onderhou. Dit sluit in vereniging rakende ʼn beplande voorsiening van kos, elektrisiteit, water en sanitasie vir alle burgers en die regulering van kospryse deur middel van regulasies.

Volgens die EFF moet alle finansiële instellings deur middel van regulasies gedwing word om rentevrye betaalvakansies vir drie maande te gee aan alle nie-noodsaaklike werkers en onderneming. Alle basiese en hoër onderwys moet aanlyn plaasvind en deur middel van die openbare uitsaaier. “Internet- en uitsaaidienste se pryse moet gereguleer en verminder word.”

Foto: SAPD/Facebook

Die party is verder van mening dat infrastrukturele opknapping en uitbreiding onmiddellik by alle provinsiale hospitale gedoen moet word. “Daar moet satelliet-kwarantynsentrums in alle informele nedersettings wees en alle noodsaaklike werkers moet gratis mediesesorgdekking kry vir Covid-19.”

Die EFF sê indien daar nie nou ʼn strenger afsonderingstydperk ingestel word nie, sal honderde duisende mense hul lewens verloor, waarvan die meerderheid arm swart mense sal wees. “Wat erger is, is dat daar geen ervare arbeidsmag sal wees wanneer Covid-19 verby is nie. Die weiering om die land weer onder ʼn vlak 5-afsonderingstydperk te plaas moet dus gesien word as medepligtigheid in die massamoord op ons mense.”

Dit is nou duidelik dat die voortydige en roekelose heropening van die ekonomie en talle ander sektore van die samelewing, sal eindig in talle vermybare sterftes, voer die EFF aan. “Niemand moet aan Covid-19 doodgaan omdat hulle wou skool toe gaan nie. Niemand moet aan Covid-19 doodgaan omdat hulle wou gaan werk om kos op die tafel te sit nie. Niemand moet aan Covid-19 doodgaan omdat hulle deur bankleningverpligtinge gedwing is om hul huise, motors en ondernemings te red nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

44 Kommentare

jongste oudste gewildste
Michael 1

Dit is omdat vlak 5 die eff pas soos n handskoen sit en niks doen en wag vir n handout van die regering en kos van die boere .

Burgermeester

Hoe dink die EFF gaan mense nog drie maande van inperking oorleef? Dit is nes hulle is, geld groei mos aan ‘n boom. Laat mense vir nog drie maande by die huis sit en nie werk nie.

Stefan

Sal hulle met die taxi ouens gaan ‘praat’

Oomniklaassevriend

En die EFFleierskap leef in ‘n droomwêreld waar almal so maklik as hulself ‘n oorvloed geld kan bekom en geen finansiële probleme het nie.

Adrian

“Geen ander reg is verhewe bo die reg om te lewe nie”.
Het Malema dit gesê…? Is dit net op swartes bedoel???