EFF dien klag by gelykheidshof in teen Zuma en Zille

Julius Malema tydens 'n vorige perskonferensie Foto: effighters.org.za

Julius Malema tydens ‘n vorige perskonferensie Foto: effighters.org.za

Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het Vrydag ʼn klag teen Helen Zille, leier van die DA, en president Jacob Zuma by die gelykheidshof ingedien.

Yerushka Chetty, provinsiale woordvoerder vir die EFF, het gesê die party glo die leiers is skuldig aan growwe menseregteskendings en rassisme teen swart mense.

“Die post-1994 Wes-Kaapse regering het die elite bedien en versuim om na die belange van die swart meerderheid om te sien,” het Chetty in ʼn verklaring gesê. “Dit is teenstrydig met die toewyding tot die fundamentele regte en vryheid wat in die Grondwet en gelykheidswetgewing vervat is, soos die reg op lewe, gelykheid en menswaardigheid.”

Ivan Meyer, leier van die DA in die Wes-Kaap, het die EFF se klag as “die belaglikste verkiesingsfoefie van die verkiesingsveldtog tot dusver” beskryf.

Die presidensie het gesê hy neem kennis van die verklaring.

Chetty het gesê hoofde van ledestate van die Afrika-Unie het in 2004 weer hul toewyding tot geslagsgelykheid hernu en ingestem tot ʼn aantal maatreëls wat vroueregte verseker, insluitend in gesondheid, behuising, opvoeding en grondeienaarskap. Die EFF glo hierdie ooreenkomste word nagekom vir wit vroue in Suid-Afrika, maar nie hul swart eweknieë nie.

“Die staatshoof Jacob Zuma en Helen Zille as leier van die DA, is verbind tot die bepalings van die ooreenkoms en die bepalings van elke streeks-, kontinentale en internasionale instrument oor vroue- en menseregte wat Suid-Afrika onderteken het,” het Chetty bygevoeg. “Jacob Zuma en Helen Zille is dienooreenkomstig krimineel aanspreeklik vir die status van swart vroue.”

Die EFF het versoek dat Zuma en Zille skuldig bevind moet word en lewenslange tronkstraf opgelê moet word.

Hulle versoek ook dat die beskuldigdes vergoeding moet betaal vir die skade wat die slagoffers gely het en dat beslag gelê moet word op die bates en eiendom van al twee beskuldigdes en dan verkoop moet word.

Meyer het gesê die EFF se klag is “belaglik” en die DA neem dit nie ernstig op nie. “Ons werk hard om ʼn beter lewe vir almal te skep in die plekke waar ons aan bewind is,” het hy gesê. “In die Wes-Kaap, waar ons aan bewind is, is werkloosheid die laagste en toegang tot water, sanitasie en elektrisiteit die beste.”

Volgens die departement van justisie se webwerf moet die klerk van die hof binne sewe dae die beskuldigdes in kennis stel van die klag en hulle moet dan binne 10 dae reageer. Die hof het dan sewe dae om te bepaal of die saak deur die gelykheidshof aangehoor sal word, of dit na ʼn ander forum, soos die Menseregtekommissie, verwys. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peter Says ·

Eish, juli Ass, jy raak noual beserk, wat kan n mens vorentoe van julle verwag ???

daniel ·

Wat gan van die land word ons jong mense ons kinders daar is soveel goed belowe ma daar niks ons stem ma niks ge beer niks

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.