EFF dreig met regstappe oor moontlike skorsing

Julius Malema op 21 Augustus 2014 buite die Nasionale Vergadering Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Julius Malema op 21 Augustus 2014 buite die Nasionale Vergadering Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), het gesê sy party sal die hof nader om te keer dat partylede uit die parlement geskors word.

Malema het Donderdag aan joernaliste by die parlement gesê al 25 EFF-LP’s is besig om, met behulp van regsverteenwoordigers, antwoorde op te stel in reaksie op Baleka Mbete, speaker van die parlement, se voorneme om hulle te skors.

Malema sê die LP’s sal in hul antwoorde aan Mbete vir haar ʼn spertyd gee wanneer sy aan hulle die versekering moet bied dat sy nie volgende week ʼn mosie sal indien vir hulle skorsing nie. Indien sy glo versuim om dit te doen, sal hulle regsverteenwoordigers die hof nader om ʼn dringende interdik te bekom ten einde hul skorsing te verhoed.

Malema sê dit is onwaar dat EFF-LP’s ʼn sitting van die Nasionale Vergadering ontwrig het, aangesien hulle net “betaal die geld terug!” gedreunsing het. Hy sê Mbete het ook nooit EFF-lede by name gevra om die vergadering te verlaat nie, maar gesê “lede wat nie ernstig is nie” moet die saal verlaat.

“Die ware rede hoekom die mense ons wil skors, is omdat hulle wil hê president Jacob Zuma moet tydens ons 14 dae skorsing kom vrae beantwoord en tweedens omdat hulle nie wil hê ek moet deel wees van die nuwe ad hoc-komitee oor Nkandla nie,” het hy bygevoeg.

Malema het Mbete en die regerende party daarvan beskuldig dat hulle “altyd kortpaaie soek rakende politieke vrae”, en bygevoeg dat die ANC sy “intellektuele hef” verloor het.

Hy sê sy partylede sal Vrydag hulle antwoorde by Mbete indien en haar 24 of 48 uur gee om daarop te antwoord.

Die EFF het verlede Donderdag chaos in die Nasionale Vergadering veroorsaak terwyl president Zuma besig was om vrae te antwoord.

Lees ook:
EFF-LP’s dalk geskors oor ontwrigting in parlement
Gebeurlikheidsplan in plek gestel ná ontwrigting in parlement
Video: Malema-sekwestrasie: Saak uitgestel
EFF ‘n “bedreiging vir demokrasie”
EFF ontwrig wéér parlement

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.