EFF dreig skool oor plasings

Die Laerskool Danie Malan in Pretoria-Noord. (Foto: Google)

Lede van die EFF en ander “bekommerde lede van die gemeenskap” het Maandagoggend buite die Laerskool Danie Malan in Pretoria-Noord bymekaargekom en daarop aangedring dat meer Engelse leerders by die skool geplaas word.

Die groep betogers het net ná 08:00 by die skool opgedaag en die skool se hekke is gevolglik gesluit. Teen 10:30 het die betogers egter verdaag sonder om enige skade aan te rig.

Skole maak eers Woensdag amptelik oop, maar onderwysers is al vanaf Maandag op hul pos.

Shabangu Masombuka, lid van die EFF in Gauteng, het aan Maroela Media gesê betogers dring daarop aan dat die getal Engelse klasse aan die skool vermeerder word. “Ouers is gefrustreerd. Van hulle woon net ʼn straat van die skool af, maar kry nie plek hier nie.”

Tans is daar net een Engelse klas per graad, maar Karel van Zyl, voorsitter van Danie Malan se beheerliggaam, sê die skool kan eenvoudig nie nog meer leerders inneem nie. “Hierdie probleem steek die afgelope vyf jaar jaarliks kop uit en ons as skool doen alles om soveel moontlik leerders in te neem. Daar moet egter dringend meer skole in Pretoria-Noord gebou word.”

Hy sê die skool kan ook nie meer Engelse klasse skep nie, aangesien daar veral ʼn dringende behoefte aan Afrikaanse skole in die gebied is en dit dus weer die Afrikaanse leerders sal benadeel.

“Baie van die inskrywings wat skole in die gebied ontvang, is ook nie eens van leerders wat naby die skool woon nie. Dit is van leerders in woongebiede soos Soshanguve, wat óf nie plek in skole in hul woongebied kry nie, óf eenvoudig nie daar wil skoolgaan nie.”

Volgens Masombuka was daar vanoggend 100 betogers voor die skool, wat daarop aangedring het om met die skool se bestuur te gesels. Lede van Maximum Security is Maandagoggend omstreeks 08:26 na die skool ontbied.

Llewellyn Mostert, skofsenior by Maximum Security, sê daar was net ʼn handjievol betogers Maandagoggend by die skool en die skool se hekke is vinnig gesluit. “Hulle het gou weer verdaag sonder om enige moeilikheid te maak,” het hy aan Maroela Media gesê.

Maroela Media het verlede week berig sowat 2 000 gr. 1- en gr. 8-leerders wag nog vir plek in skole. Pretoria-Noord is veral ʼn probleemgebied en van die skole hier het die meeste aansoeke in die hele provinsie gekry.

Die Gautengse departement sal Dinsdagoggend ʼn mediakonferensie belê om terugvoer oor plasings te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Pierre ·

Wil nie hoor nie. Moet Brackenfell se ouers julle kom wys hoe?

JohanR ·

EFF breek af. Die res van SA probeer om op te bou. Kom Brakenfell toe sodat ons weer kan sien hoe julle hardloop waaneer die skote en bomme klap! Ek dit baie geniet.

Koen ·

En jy reken die anc bou?. Bhahahahaaaa. Dis nou vir jou die grap van die eeu.

Mallie ·

Hou op om skole af te breek verbrand en plunder. Dan sal daar plek wees bir almal.

George ·

Waar is die skole wat jou ANC gebou het Malema, waars die skole wat jy as EFF gebou het? Oja, afgebrand.

Brombeer80 ·

Die EFF hou daarvan om rond te krap, in plaas van om te poog om hulle eie “engelse” medium skool op te rig vir die leerders, naby waar hulle woon en ekstra onderwys en ander gepaardgaande administratiewe poste te skep in hulle gemeenskap, tot baat van die betrokke gemeenskappe.

Henry ·

Dit is stupid om mense wat ver bly se kinders plek te gee terwyl party net oorkant die skool bly. Wanneer bou hulle meer skole.

Jakkie ·

Hulle dring aan op Engels, maar hulle huistaal is nie Engels nie…….iemand wat van Soshanguve af inry ry reeds by klomp skole verby………

domheks ·

Kom ons vra vir Malemmer hoeveel skole het die eff al gebou, en ook sommer hoeveel al afgebrand is:?

Harley Davidson ·

Die kinders word met taxis aangery en dan wil die arrogante eff nog hê.

Nettie ·

Vir al die moeite, tyd, geld en energie wat die EFF al op protes aksies spandeer het, veral by Afrikaanse skole, kon hulle self al ‘n paar skole gebou het en so die probleem opgelos het…..

Ann ·

Ek wens hulle wil ophou om Afrikaanse skole te intimideer. Hulle wìl Afrikaans in sy kanon in stuur.

Boatsie ·

Betaal gou ‘n paar ouers van Brackenfell se buskaartjies dat hul kom help

Blikkies ·

Die Regering is wel bewus van die skole probleem en elke jaar veroorsaak dit meer en meer probleme. Vir jare nou al word daar nie meer skole gebou nie. Is hulle blind of net bloot onnosel. Wat is fout met die regering en sy onderwys ministers. Verstaan hulle nie die konsep van meer mense het meer infrastruktuur nodig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.