EFF eis Lamola se kop ná onderhoude vir hoofregter

Julius Malema, leier van die EFF, by die RDK se onderhoude vir die posisie van hoofregter. (Foto: Twitter)

Die EFF eis die afdanking van Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, omdat hy glo ingemeng het in die proses om regter Dunstan Mlambo as waarnemende regter van die Konstitusionele Hof te laat aanstel.

Die EFF het Saterdag verder uitgevaar nadat Julius Malema, EFF-leier, ʼn dag tevore by die onderhoude vir ʼn nuwe hoofregter daarop gesinspeel het dat Lamola die waarnemende hoofregter, Raymond Zondo, gevra het om dit te oorweeg om Mlambo in ʼn waarnemende hoedanigheid by die land se hoogste hof aan te stel.

“Gister het min. Lamola en adjunkhoofregter Zondo briefwisseling en foonoproepe onthul waarin die minister probeer het om die aanstelling van ʼn waarnemende regter by die Konstitusionele Hof ten gunste van regter Mlambo te beïnvloed,” sê die EFF.

Lamola het letterlik gevra dat Mlambo as waarnemende regter aangewys word, sê die EFF. “Die uitsondering van ʼn kandidaat wek die indruk van ʼn direkte belang, dalk selfs oor die kwessie wat die regter by die Konstitusionele Hof sou aanhoor. ʼn Etiese minister sou bloot die hoof van die regbank toegelaat het om uit die talle vaardige regters ʼn aanbeveling te doen. Om Mlambo se naam uit te soek, in die lig van sy belangstelling om die hoof van die regbank te word, is onetiese belangstelling in hom.”

Die EFF bestempel die “onthullings” as bewyse dat die ANC die regbank manipuleer. Die party voer aan Lamola het Mlambo spesifiek uitgesonder om ondervinding in die Konstitusionele Hof op te doen sodat hy met dié ondervinding by die onderhoude vir hoofregter kon opdaag.

“Lamola het op hom aangedring sodat hy ʼn moontlike en regmatige keuse in die wedren vir die hoof van die Konstitusionele Hof sou wees. Regter Mlambo kom duidelik met ʼn Lamola-seëning.”

Die rooi barette meen omdat Lamola “namens” pres. Cyril Ramaphosa opgetree het, moet die polisie ʼn moontlike sameswering ondersoek oor die beweerde voorafbesluit om Mlambo as hoofregter aan te wys.

Zondo ook gekap

Die EFF sê ook die feit dat Zondo aan die versoek toegegee het, moet beskou word as ʼn gebrek aan onafhanklikheid.

Die party sê voorts hy is reg bewys deur onthullings dat Zondo privaat met oudpres. Jacob Zuma byeengekom het om Malema se politieke sienings te bespreek. Zondo het gesê hy het Zuma besoek om Malema se destydse uitsprake as jeugleier van die ANC – dat hy sou “doodmaak vir Zuma” – te bespreek.

“Dit is belangrik omdat Zondo maande lank, ook gister, volgehou het dat hy geen vriendskap met Zuma het nie. By die onderhoude het hy egter onwetend teenstydige bewyse vir hierdie bewerings gegee.”

Die EFF sê “net vriende kan privaat byeenkom, in die gemak van hul huise, om ander politici se uitsprake te bespreek”. Die party sê geen ander regter sou so gemaklik na Zuma kon uitreik nie en bestempel die ontmoeting as “onetiese gedrag van katastrofiese omvang”.

Die EFF sê daar kan nie meer weggekyk word van die “vooroordeel en onetiese gedrag nie”.

“Ons kan nie meer optree asof ʼn regter nie deur politici gekaap word weens sy of haar ambisie vir bevordering nie. Die EFF gaan ʼn klag teen Zondo by die Regterlike Dienskommissie (RDK) indien vir verwysing na die regterlike gedragskomitee, sodat hy aanspreeklik gehou word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
SjN

Die eff kry hopeloos te veel media dekking, lamola moet hom eerder by sy afdeling waarvan hy nie juis presteer nie, probeer bepaal.