EFF-interdik: ‘ANC het meerderheid probeer misbruik’

Julius Malema, leier van die EFF, op 21 Augustus 2014 buite die Nasionale Vergadering Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Julius Malema, leier van die EFF, op 21 Augustus 2014 buite die Nasionale Vergadering Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Die EFF het gesê die tydelike interdik wat Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof toegestaan is, wys dat die ANC nie sy meerderheid in die parlement kan gebruik om politieke geskille te besleg nie.

Regter Dennis Davis het die interdik toegestaan wat verhoed dat sanksies op die EFF se LP’s in die parlement toegepas kan word.

“Die ANC het sy meerderheid in die parlement probeer misbruik deur die EFF tot onderdanigheid te probeer dwing oor die kwessie van #PayBackTheMoney en sodoende die korrupte president Jacob Zuma probeer beskerm,” het Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder van die EFF, gesê.

“Ons sal weer die vraag opper wanneer Zuma sy patetiese staatsrede lewer en ons sal dit fel en binne die reëls dien. Intimidasie en dreigemente sal ons nie afskrik nie.”

Die parlement het vroeër gesê hy sal aan die hof se uitspraak gehoor gee. “Die parlement neem kennis van die uitspraak wat as ʼn tussentydse maatreël die parlement noop om met onmiddellike effek die 20 EFF-LP’s se salarisse en toelae te betaal.”

Die ANC het gesê die tussentydse interdik het slegs ten doel om die implementering van die sanksies teen die EFF-LP’s te vertraag en nie om dit te skrap of onwettig te verklaar nie.

Die EFF het die aansoek ingedien na 20 van sy LP’s verlede maand deur die parlementêre komitee oor regte en voorregte skuldig bevind is aan wangedrag en gevolglik geskors is. Dit het gevolg nadat EFF-LP’s op 21 Augustus “betaal terug die geld” in die Nasionale Vergadering begin dreunsing het terwyl pres. Jacob Zuma vrae beantwoord het.

Hulle het verwys na ʼn verslag van die Openbare Beskermer waarin sy aanbeveel het dat Zuma ʼn gedeelte van die R246 miljoen wat aan opgraderings by sy privaat woning in Nkandla spandeer is, moet terugbetaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Thys Human ·

Maroela, ek kan julle nie kritiseer as julle die EFF se verklaring gebruik nie, maar ek kan julle wel kritiseer oor die wyse waarop dit gebruik is en die totaal verkeerde weergawe van regter Davis se bevel.

Feit is dat Davis NIE enige uitspraak oor die kern of basis van die kwessie gelewer nie. Hy het self immers gese dat ‘n ander hof na die wese van die aansoek moet kyk – en dat dit nie as dringend beskou kan word nie.

Maar hy het wel hulle aansoek toegestaan dat hulle salarisse nie gevries word nie – dit sal dan ook uitbetaal moet word totdat ‘n ander hof hulle skorsing oorweeg het. Julle sal rerig moet toesien dat julle verslaggewers en subs behoorlik opgelei word!

Ja, julle het die ANC se verklaring ook gebruiki, maar dit so amper weggesteek. Die beste opskrif en inleiding vir die berig sou gewees het om aan te dui dat die EFF en die ANC skerp verskil oor die impak van die uitspraak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.