EFF-jeug kap Mandaryn in SA skole

Argieffoto

Argieffoto

Die jeugbeweging van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFFSC) het gesê dit is belaglik dat Mandaryn by Suid-Afrikaanse skole aangebied sal word en bygevoeg ander Afrika-tale sal daaronder ly.

“Dit is polities onlogies, indien nie absurd nie, dat die departement van basiese onderwys (primêr en hoër skool) tans voorspraak maak om Mandaryn te implementeer, terwyl geen pogings aangewend word om Afrika-tale op onderrigvlak en vir navorsingsdoeleindes te ontwikkel nie,” het Mpho Moses Morolane, studenteleier, gesê.

Morolane het sy toespraak gelewer tydens ʼn debatsessie oor studenteperspektiewe oor transformasie in hoër onderwys op die tweede dag van die hoëronderwysberaad by die internasionale konvensiesentrum in Durban.

Hy het gesê die regering behoort “homself te skaam” dat as ʼn “sogenaamde vryheidsbeweging” hy versuim het om ʼn opleidingstelsel in te stel wat persone kan vrymaak, hul waardigheid respekteer en hul potensiaal deur die bevordering van Afrikatale en -kennis kan bevorder.

Hy het gesê Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, se konstruktiewe kritiek word aanvaar, maar die minister het ʼn gewoonte om vir mense te sê hoe sy generasie Marxisme aanvaar het. “Wanneer hy praat, het hy egter nie ʼn Marxistiese benadering tot onderwys nie,” het Morolane gesê. “Daar is niks hieroor in die wit koerante nie. Daar moet ʼn balans wees tussen teorie en praktyk. Ons moet seker maak daar is nie ʼn skeiding tussen ons kurrikulum en die konteks van die studente en hul gemeenskap se ervaring nie.”

Hy het gesê universiteite moet die regte en verantwoordelikhede van studente respekteer en hulself nie tot strukturele geweld wend wanneer hulle perspektief met studente sʼn verskil en studente en (studente)betogings dan kriminaliseer nie. Hy het gesê die bestuur by sewe van die 26 universiteite in die land het die EFFSC in 2015 ge-“demoniseer” deur die studentebeweging nie toe te laat om deel te neem aan die bestuur nie, wat beteken dat die EFF nie kon deelneem aan die bevordering van demokratiese ideale, verdraagsaamheid of diversiteit in denke nie.

“Ons is onderwerp aan geweld waar die polisie, die honde-eenheid en sekuriteit ontbied is om EFF-studente te teister,” het hy bygevoeg.

Morolane het gesê in plaas daarvan dat universiteite ʼn plek van dialoog skep, het dit persele geword vir sensuur, geweld, uitsluiting, en onverdraagsaamheid van politieke verskille.

Hy het ook weer die kwessie van gratis opleiding aangeroer. “Die minister het gesê hy ondersteun die idee van gratis opleiding, maar sê nie vir ons hoe ons dit gaan kry nie. Daar is meer as 30 lande in die wêreld, insluitend Botswana en Rusland, wat gratis opvoeding bied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter V ·

Die EFF is reg as hulle se dat daar eerder n Afrikataal as Mandaryns by skole aangebied moet word ,terwyl die onderwys dept. die Khoi taal nie meer in die Khoi skole aanbied nie .Dit is natuurlik weer Zuma en sy Marxistiese vriende in die alliansie wat die Chinese terwille wil wees sodat almal Mandaryns magtig sal wees nadat die anc die land aan die Chinese verkoop het en Zuma se sakke vol geprop is.

Tynhardt ·

EFF moenie nou huil oor jou Mandaryn wat jy moet praat nie!Jul leier,Malema het destyds gebaklei dat Zuma nie in die tronk moet beland nie!Nou het Zuma jul beloon met Mandaryn as jul taal! n Land met twaalf tale is gedoem.SA het die nuwe toring van Babel geword met twaalf tale!De Klerk,jy het SA omskep in n helse groot sirkus!

Francie ·

Absurd soos dit sekerlik klink, stem ek saam met die EEF – hieroor.
Waarom nie veel eerder ‘n inheemse taal nie. My een kind praat ‘n paar inheemse tale vlot en sy menseverhouding en interaksie met Suid-Afrikaners is net om te begeer. Ek dink dit wys wedersydse respek en kan een van die belangrikste hulpmiddels wees tot harmonie en vrede in ons land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.