EFF kap Ramos se aanstelling op interim direksie

Maria Ramos. (Foto: ANA)

Die EFF is nie gelukkig oor die besluit om Maria Ramos as een van die waarnemende direksielede by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) aan te stel nie.

“Sy is onder verdenking en gaan nie die belange van staatsamptenare en die OBK verdedig nie,” sê die party in ʼn verklaring.

Dít volg nadat Tito Mboweni, minister van finansies, ná konsultasie met die kabinet ʼn interim direksie by die OBK aangestel het.

Dié aanstelling is effektief van 12 Julie 2019 tot 31 Julie 2020. Die voorsitter en dié se adjunk sal tydens die eerste sitting van die interim direksie aangewys word.

Ramos wat einde Januarie as uitvoerende hoof van Absa uitgetree het, is een van die waarnemende direksielede.

Daar is intussen ook aangekondig dat pres. Cyril Ramaphosa ná konsultasie met Mboweni en die direksie van die Reserwebank besluit het om Lesetka Kganyago weer as hoof van dié bank aan te stel vir nog vyf jaar.

Die EFF het in sy verklaring na Ramos asook Mboweni, die voormalige minister van finansies Trevor Manuel en pres. Cyril Ramaphosa as “direkte afgevaardigdes van wit monopolie op kapitaal” verwys.

“Ramos was onlangs ʼn raadslid van Remgro, ʼn beleggingsmaatskappy onder voorsitterskap van Johan Rupert wat aandele in baie maatskappye het wat die OBK as aandeelhouers het. Onder hierdie maatskappye val RMH en FirstRand, die eienaars van FNB en Wesbank, Mediclinic, eMedia wat eTV en eNCA besit asook Distell, RCL Foods en baie ander maatskappye waarin die OBK direkte of indirekte belange het.

“Sy sal onvermydelik in konflik wees en beslis nie die belange van staatswerknemers op die OBK-raad verdedig nie aangesien sy direkte verhoudings met die maatskappye het waarop sy as direkteur dien,” lui die verklaring.

Volgens die EFF ignoreer Mboweni doelbewus die Nasionale Vergadering se leiding ten gunste van sy kapitalistiese vriende.

Die ander lede van die OBK se interim direksie is Sindi Mabaso-Koyana, Irene Charnley, Tshepiso Moahloli, Barbara Watson, Ivan Fredericks, Zola Saphetha, Bhekithemba Gamedze, dr. Angelo David Sabelo de Bruin, prof. Bonke Dumisa, adv. Makhubalo Ndaba en dr. Reuel Khoza. Pitsi Moloto en dr. Xolani Mkhwanazi is heraangestel as direksielede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anoniem

Bla, bla, bla word wakker eff.

Belinda

Ek wag vir die dag wat EFF met enigiets gelukkig sal wees….

KP

EFF is rassisties teenoor wittes, of kan dit nie so werk nie?

Koos de Meyer.

Nee hulle wil net hulle broers daar hê sodat hulle verder ons pensioen geld kan swendel. Wie dink die mnr. is hy en sy trawante eindelik.

Magda

EFF Shut up – en vee voor julle eie deure eerste