EFF kap weer na Indiërs, Schabir Shaik

Die EFF-leier Julius Malema en ander lede van die EFF-leierskap tydens die party se verjaarsdagvieringe in Durban (Julie 2017). Foto: ANA

Die EFF het Maandag die partyleier, Julius Malema, se woorde herhaal dat talle swart mense op rassistiese wyse behandel word deur Indiërs en spesifiek Indiër-besigheidseienaars.

Die party het in ʼn verklaring gesê hy bevestig Malema se uitsprake oor die “uitbuiting en rassisme waaronder Afrikane aan die hande van baie Indiërs moet ly”.

Malema het die afgelope naweek tydens die EFF se verjaarsdagvieringe in Durban gesê Indiërs is “erger as Afrikaners”. Hy het onder meer verwys na Indiërs wat volgens hom strategiese tenders en sakeaktiwiteite monopoliseer sodat slegs ʼn enkele paar families daarby baat vind, asook die “uitbuitende werksomstandighede” van swart mense in winkels wat deur Indiërs besit word. Hy het ook gesê dat baie strategiese tenders op plaaslike regeringsvlak deur Indiër-families in Durban gedomineer word.

“[Malema] het dit baie duidelik gemaak dat ons nie dominansie van enige rassegroep wil hê nie. Ons revolusie gaan daaroor dat die rykdom gedeel word deur almal wat dit werk [sic]. Dit gaan nie daaroor om witmonopoliekapitaal te vervang met swartmonopoliekapitaal of Indiërmonopoliekapitaal nie.”

Volgens die EFF het apartheid daartoe gelei dat die indruk geskep is dat Indiërs beter is as swart of bruin mense. Die party meen hierdie mentaliteit dra by tot die manier waarop swart mense deur die Indiër-gemeenskap behandel word.

Die EFF het gesê hy sal nie verskonend wees wanneer “sy mense onderdruk word” of op eiers loop rondom “valse minderheidsgevoelens nie”.

“Onderdrukking moet ontbloot word vir wat dit is. Wanneer Afrikane in baie informele nedersettings uitbars in xenofobiese geweld teen Pakistani’s en ander Afrikane van hierdie kontinent, veroordeel ons dit. Wanneer wit boere uitbars in anti-swart rassisme teen swart plaaswerkers, veroordeel ons dit. Wanneer mans verkrag, is ons deel van die veroordeling en die publieke opslae van ‘MenAreTrash’. Net so moet die rassisme wat Afrikane aan die hand van Indiër-besighede en -families ondervind, veroordeel word totdat dit stopgesit word.”

Die party het ook in die verklaring na die veroordeelde bedrieër Schabir Shaik gekap wat in 2009 op mediese parool vrygelaat is. “Ons sal nie stilbly nie, veral nie in die lig van die skynheilige kritiek wat van [Shaik] af kom nie,” lui die verklaring.

“Ons raai Shaik aan om eerder op sy valse siekte te fokus voordat ons vra dat sy parool hersien word. Dit is presies mense soos hy wat in plaas van om rassisme teenoor swart mense deur die Indiër-gemeenskap te konfronteer, eerder die aandag probeer aflei deur valse aantygings te maak dat die EFF geweld aanhits.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Alida ·

Die media moet ophou om vir JM soveel publisiteit te gee. Hy sweep net die ongeskooldes op. Ignoreer die vent.

Michael ·

Ek het nogal respek vir hom sê n ding soos hy daaroor voel sonder vrees of om polities korrek te probeer wees simpel uitsprake maar dit is my opinie demokrasie in werking.

Cherokee ·

Dan Michael, moet jy maar by sy party aansluit indien jy dit nie reeds gedoen het nie.

Marietjie ·

Michael…Demokrasie in werking?? Werklik???? En as ek nou my demokratiese reg uitoefen wat dink jy gaan met my gebeur? Niemand gaan vir my hande klap nie…ek sal heel waarskynlik vervolg word en betaal tot my laaste asempie toe. Nee wat, demokrasie behoort ongelukkig nie aan ons almal nie en dit wat Malema kwyt raak is groenlig vir sy manne op die grond om ons uit te haal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.