EFF kla Ramaphosa van moord aan

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa. Foto: Siyabulela Duda, departement van kommunikasie

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa. Foto: Siyabulela Duda, departement van kommunikasie

Julius Malema, leier van die EFF, en ʼn afvaardiging het Vrydagmiddag verskeie klagtes van onder meer moord teen ses mense, waaronder adjunkpres. Cyril Ramaphosa, aanhangig gemaak.

Kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die polisie, het gesê klagte van moord, sameswering om moord te pleeg en poging tot moord is teen ses mense gemaak. Volgens Ramaloko het genl.maj. Jacob Tsumane, polisiekommissaris in Noordwes, aangedui dat die saak die nodige aandag sal kry.

Malema het vroeër aangedui dat die EFF strafregtelike klagte aanhangig maak teen Ramaphosa, Nathi Mtethwa (voormalige polisieminister), Riah Phiyega (nasionale polisiekommissaris), Zuliswa Mbombo (voormalige polisiekommissaris in Noordwes) en Lonmin. Die klagte gaan oor hul beweerde rol in die Marikana-voorval waartydens 34 mynwerkers in Augustus 2012 deur polisiebeamptes doodgeskiet is. Minstens tien mense is in die voorafgaande geweld dood.

Volgens die EFF moet Ramaphosa verantwoordelik gehou word vir die dood van die mynwerkers. Ramaphosa het aandele in Lonmin gehad en was een van die maatskappy se nie-uitvoerende direkteure tot met sy aanstelling as adjunkpresident in 2014.

Die EFF se optrede volg nadat pres. Jacob Zuma verlede week die Farlam Kommissie van Ondersoek se verslag bekend gemaak het. Die kommissie het in sy verslag die skuld vir die tragedie op die polisie se leierskorps gepak. Die verslag onthef regeringshoë gesagsdraers soos adjunkpres. Cyril Ramaphosa en ander ministers van enige blaam.

Die kommissie se verslag het ook ewe verdoemende bevindings teen Mbombo, wat in Mei uitgetree het, gemaak. Die kommissie het ook beveel dat ʼn ondersoek gedoen word na Phiyega en Mbombo se geskiktheid om hul amp te beklee.

Klik hier vir alle vorige berigte oor Marikana op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Winston ·

Wat n mors van geld!! Julius moet liewer gaan hengel in Namakwaland

Gerhard Bezuidenhout ·

Wat Malema en kie nie noem nie is dat die klomp mynersboewe voor die tyd mense doodgemaak het en hulie was op die dag wat n klomp van hul kamerade in die stof gebyt het gewapen vir doodmaak . Ek wonder wat Malema en sy maatjies sou gedoen het indien hulle in die polisie se skoene sou wees en die klomp storm op hul af . Ek is seker dat hy steeds sou gehardloop het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.